Home Up

BESWAARSKRIF : KLASSIS JOHANNESBURG TEEN BESLUIT NASIONALE SINODE 1997, ART. 23.6 OOR MOONTLIKE UITBREIDING VAN KO, ART. 69 (Artt.136, 252)

BESWAARSKRIF VAN PARTIKULIERE SINODE NOORD-TRANSVAAL TEEN BESLUITE NASIONALE SINODE 1913 EN 1997 OOR LITURGIESE LIEDERE EN ‘N VERSOEK AS KONSEKWENSIE (Artt.137, 252)

Ds. G.N.V. Botha stel die Beswaarskrif.

Dr. N.P. Heystek stel die Beswaarskrif.

Besluit: Beide die Beswaarskrif en Beswaarskrif word verwys na die Kommissie Liturgies 1.

Ds. J.H Cilliers stel die Kommissierapport.

BESWAARSKRIF

Hiermee word beswaar aangeteken teen die besluit van Nasionale Sinode 1997:809, 23.6 oor moontlike uitbreiding van KO, art. 69.

1. Die besluit waarteen beswaar gemaak word, lui soos volg

Daar word nie gevolg gegee aan die Beskrywingspunt nie.

Motivering: Die liedere wat die Here ons in sy Woord gegee het (dit sluit berymde en te beryme OT en NT liedere in) is vir gebruik in die kerke die beste en voldoende.

2. Die Nasionale Sinode 2000 word versoek om bogenoemde besluit te herroep en opnuut die Beskrywingspunt van die Suidelike Partikuliere Sinode (Acta 1997:807-809) ter tafel te neem.

3. Beswaargrond 1

Die Nasionale Sinode gaan in sy motivering nie voldoende in op die eksegetiese en praktiese beredenering van die Beskrywingspunt nie.

 

Motivering

3.1 Die Beskrywingspunt motiveer deeglik die versoek tot wysiging (oor die noodsaaklikheid van die voorgestelde wysiging). Die Nasionale Sinode spreek hieroor slegs ’n ongemotiveerde waardeoordeel uit.

3.2 Eksegese van die Here se Woord, wat deur ’n Partikuliere Sinode getoets is en wat handel oor die belangrikste Skrifgegewens oor hierdie saak, word in die Beskrywingspunt as motivering gegee (808, 1.4). Die Nasionale Sinode wys egter die Beskrywingspunt van die hand sonder om enige beredenering tot die teendeel uit die Skrif aan te toon.

3.3 Die Beskrywingspunt maak duidelik in 1.4 onderskeid tussen

Wat die Skrif oor die sing van liedere in die kerk leer (vgl. die verwysing na Ef 5:19; Kol 3:16)

Die feit dat liedere in die Skrif voorkom (vgl. die verwysing o.a. na Filip 2:6-11).

Die Sinode swyg egter geheel en al oor a) hierbo, en bevestig bloot die status quo.

Hiermee kom die beginsel van 2 Tim 3:16 ("Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek") in gedrang.

3.4 Die Nasionale Sinode gee geen motivering uit die Belydenis en die Kerkorde self nie.

3.5 Die Beskrywingspunt wys op, en beredeneer, inkonsekwenthede, praktiese onhoudbaarhede en eensydighede in die bestaande praktyk (vgl. 1.2, 1.3, 1.5, 1.6). Sonder dat enige beredenering blyk, word hierdie motivering egter afgewys of geïgnoreer deur te stel dat die bestaande praktyk voldoende is.

3.6 In die Gereformeerde Kerke regeer Christus as Hoof van die kerk sy liggaam deur sy Woord (Ef 4:15). Wat Christus in sy Woord beveel, is bepalend. Die stem van die Here, en nie die stem van die meerderheid of van ‘n Sinode nie (kollegialisme) moet gehoor word. Daarom is duidelike Skrifbegronding nodig.

3.7 Daar is juis nou ’n groeiende behoefte in plaaslike kerke aan groter duidelikheid op grond van die Here se Woord oor die kerklike praktyk. Ernstige debatte hieroor is in die GKSA aan die gang. Hierdie feit plaas ’n groot verantwoordelikheid op die Nasionale Sinode om behoorlike advies en grondige beredenering volgens God se Woord te gee (vgl. KO, art. 86), veral met die oog op die bevordering van die belewing van kerklike eenheid in die besluitneming deur kerklike vergaderings.

BESWAARSKRIF

1. Besluite waarteen beswaar gemaak word

1.1 Besluit Nasionale Sinode 1913:104 en 45 (art. 134)

" Daarentegen kan aangevoerd worden het beginsel dat "in de kerken" (zoals de D K O het uitdrukt) of "of de openbare godsdiens" (zoals onze synodale bepaling het noemt) alleen …… gezongen worden …. De gezangen waarvan de tekst in Gods Woord staat uitgedrukt".

De Synode in behandeling genomen hebbende het Kommissie Rapport re kerkgezang, besluit dat rapport goed te keuren met byvoeging van de Twaalf Artikel de Geloofs".

1.2 Besluit Nasionale Sinode 1997:809, 23.6

"Daar word nie gevolg gegee aan die Beskrywingspunt nie.

Motivering: Die liedere wat die Here ons in sy Woord gegee het (dit sluit die berymde en te berymde OT en NT liedere in) is vir gebruik in die kerke die beste en voldoende.

2. Gronde vir die beswaar

2.1 Teen besluit Nasionale Sinode 1913

2.1.1 Die Sinode weerspreek homself deur enersyds as beginsel te aanvaar dat slegs "gezangen" gesing mag word waarvan die (volledige) " tekst in Gods Woord staat", maar andersyds tog die Twaalf Artikels as (belydenis) lied vir erediensgebruik goed te keur (vgl. die voorstel dr. S.O. Los – Praeses, 1913:45, 134.2 wat hierdie teenstrydigheid aanwys).

2.1.2 Voorgenoemde teenspraak wat ontstaan het, is waarskynlik daaruit te verklaar dat Sinode twee onversoenbare pole wou harmoniseer, naamlik: ‘n Belydenis (goedgekeurde homologia=nasê van die Skrif) wat deur die eeue in die liedereboek van die Christelike kerk opgeneem is (vgl. :104 bo) en andersyds ‘n sogenaamde "beginsel" dat slegs liedere gesing mag word waarvan die volledige teks in die Skrif te vind is. Dus slegs Skrifberymings (w.o. Psalmberymings).

2.1.3 Vir bogenoemde teensprekende harmonisering gebruik die Sinode funksionele en kerkhistoriese argumente (vgl. :104(a).). Indien die Skrifbeginsel en konsekwente denke aangewend is om te bepaal wat in eredienste gesing mag word en wat nie, sou dit tot ‘n Skrifbegronde besluit gelei het. So ‘n Skrifbegronde besluit sou vir die kerke destyds en in die toekoms duidelike en gesagvolle aanwysinge oor die kerklied gegee het. Die Sinode van 1913 het nagelaat om die Skrif duidelik te laat spreek (die Sola Scriptura-beginsel).

2.1.4 Sinode 1913 het met die besluit inderdaad ‘n ander beginsel en evaluering neergelê, (klaarblyklik onbewus):

Skrifgetroue liedere soos vergestalt in die Twaalf Artikels (deurgetrek na Skrifgetroue gebede (vgl. Psalmboek 1987:673 e.v.) en Skrifgetroue profesieë (Woordbediening) in die erediens, is God net so lofwaardig as die gebruiklike geëvalueerde en aanvaarde Skrifberyminge. Vergelyk ook hierin Skrifberyming 26:11.

Skrifberyming 6 is ‘n voorbeeld van ‘n kombinasie tussen ‘n Skrifberyming en ‘n Skrifgetroue lied aangesien dit elemente van beide bevat.

2.2 Teen besluit Nasionale Sinode 1997

2.2.1 Net soos die besluit van 1913 verwerp die Sinode van 1997 die Beskrywingspunt van die Suidelike Partikuliere Sinode tot uitbreiding van KO, art. 69, sonder om die Skrif te laat spreek. Die Skrifmotiveringe wat aangevoer is, is nie geweeg, aanvaar of verwerp nie. Doodeenvoudig en gemaklik word teruggegryp na die tradisionele uitspraak "Die liedere wat die Here ons in sy Woord gegee het, is in die kerke die beste en voldoende". Sonder om Skrifgronde te weeg. Waarop is hierdie "motivering" begrond? Waar is dit in die Woord van God te vind? Na watter Skrifuitsprake het die Sinode geluister? Die Beskrywingspunt van die Suidelike Partikuliere Sinode wat voor die Sinode gedien het, stel die ses motiveringe met die nodige Skrifbegrondinge (eksegese ingesluit). Hierop word geen antwoord gegee nie.

2.2.2 Veral Motivering 1.4 in die Beskrywingspunt van die Suidelike Part. Sinode (Acta 1997:808) kan nie sonder meer blywend geïgnoreer word nie. Dit lui o.m. soos volg:

"Die Ou Christelike kerk het soos dit in die NT gereflekteer word, stellig nie net die OT Psalms gesing nie. In Ef 5.19 en Kol 3.16 word psalms (psalmos), lofsange (humnos) en ander geestelike liedere (ooidê) genoem … Kerksang is hier ter sprake. (Die woord "psalmos" kan nie beperk word tot die bekende Psalms van die OT nie, aangesien lofliedere wat spontaan in die gemeente ontstaan het (1 Kor 14:15) "psalmos" heet (vgl. Versteeg J.P.: "Oog vir elkaar". Die NT bied inderwaarheid verskeie voorbeelde van Himniese gedeeltes. Een hiervan (is) Fil:6-11) … Ander voorbeelde … Kol 1:15-20, 1 Tim 3:16 (en) 2 Tim 2:11-13.

2.3 Teen besluit Nasionale Sinode1913 en 1997

3. Versoek

3.1 Die Sinode word versoek om tydens sy vergadering genoemde Beskrywingspunt - saamgelees met hierdie Beswaarskrif, vanweë die gebreke in sy besluit – weer in oorweging te neem en aan die hand van die Skrif (as norma normans) ‘n duidelike rigtinggewende besluit te neem.

KOMMISSIERAPPORT

 

1. Opdrag

Beswaarskrif Part. Sinode Wes-Transvaal teen besluit Nasionale Sinode 1997, art. 23.6 oor moontlike uitbreiding van KO, art. 69.

Beswaarskrif van Part. Sinode Noord-Transvaal teen besluite van Nasionale Sinode 1913 en 1997 oor liturgiese liedere en ‘n versoek as konsekwensie.

 

Besluit: Kennis geneem.

 

2. Werkswyse

Eers word Noord-Transvaal se Beswaarskrif teen Sinodebesluit 1913 aan die orde gestel, daarna Noord-Transvaal se Beswaarskrif teen Sinodebesluit 1997, en laastens Wes-Transvaal se Beswaarskrif teen Sinode belsuit 1997.

 

Besluit: Kennis geneem.

 

3. Beswaarskrif teen besluit 1913

3.1 Besluit waarteen beswaar gemaak word

3.1.1 Redaksie van besluit:

Die Beswaarskrif haal art. 134 as besluit aan. Dit was egter nie die finale redaksie van die besluit nie. Die finale redaksie is nie in art. 134 te vind nie, maar in art. 143:

"De Kommissie, genoemd in Art. 134 brengt de nieuwe lezing ter tafel van het aldaar genomen besluit, dit wordt nu vasgesteld, as volgt:

In de Gereformeerde Kerk (Gemeenten) van Zuid-Afrika zullen bij de openbare godsdienst gezongen worden alleen die 150 Psalmen Davids, de 12 Artikelen des Geloofs en de Gezangen, waarvan de tekst in Gods Woord staat uitgedrukt, te weten: De 10 Geboden, ‘tOnze Vader en de Lofzangen van Maria, Zacharias en Simeon."

 

3.1.2 Beredenering

3.1.2.1 Die feit dat Noord-Transvaal ‘n nie-finale redaksie van die besluit aanhaal, raak nie die wese van hulle beswaar nie.

3.1.2.2 Sinodebesluit stel 3 kategorieë liedere vir gebruik in die erediens:

de 150 Psalmen Davids

de 12 Artikelen des Geloofs

de Gezangen waarvan de tekst in Gods Woord staat uitgedrukt

Die Sinode het dus besluit dat benewens Skrifliedere ook ‘n Belydenislied gesing kan word.

 

3.2 Gronde vir beswaar

3.2.1 Gronde 2.1.1 - 2.1.3.

Die Beswaarskrif slaag nie in sy motivering om aan te toon dat die besluit ‘n teenstrydigheid bevat nie. Daar is geen teenstrydigheid nie maar twee beginsels, nl enersyds slegs liedere waarvan die teks in die Skrif te vind is, en andersyds ‘n "goedgekeurde homologia". Die Beswaarskrif het gelyk dat die Sinode 1913 hierdie ander beginsel sonder Skrifgronde invoer.

3.2.2 Grond 2.1.4

Sinode 1913 het met hierdie besluit inderdaad ‘n tweede beginsel vir die eredienslied aangelê.

 

Besluit: Kennis geneem.

3.3 Bevinding:

Die Beswaarskrif word gehandhaaf.

 

Besluit: Goedgekeur.

 

4. Beswaarskrif teen besluit 1997

4.1 Besluit waarteen beswaar gemaak word

 

Besluit: Kennis geneem.

4.1.1 Aanbeveling: Die Sinode neem kennis

 

Besluit: Goedgekeur.

 

4.2 Gronde vir beswaar

4.2.1 Beredenering:

Die Beswaarskrif toon aan dat Sinode 1997 volgens die genotuleerde motivering van sy besluit nie ‘voldoende’ ingegaan het op die eksegetiese en praktiese beredenering van die Beskrywingspunt nie.

 

Besluit: Kennis geneem.

4.3 Bevinding

Die Beswaarskrif word gehandhaaf

 

Besluit: Goedgekeur.

 

5. Beswaarskrif teen besluit 1997:809, art.23.6

5.1 Besluit waarteen beswaar gemaak word

 

Besluit: Kennis geneem.

5.1.1 Aanbeveling: Die Sinode neem kennis van punte 1-3.

 

Besluit: Goedgekeur.

 

5.2 Grond vir beswaar

5.2.1 Beredenering:

Die Beswaarskrif toon aan (3.1-3.7) dat Sinode 1997 volgens die genotuleerde motivering van sy besluit nie "voldoende" ingegaan het op die eksegetiese en praktiese beredenering van die Beskrywingspunt nie.

 

Besluit: Kennis geneem.

5.3 Bevinding

Die Beswaarskrif word gehandhaaf

 

Besluit: Goedgekeur.

6. Aanbeveling

6.1 Die Sinode versoek die Deputate Liturgiese Sake om besluit Nasionale Sinode 1913 (art. 143, p.48) en besluit Nasionale Sinode 1997 (art. 23.6, p.809) in die lig van die Beswaarskrifte en die Beskrywingspunt van Suidelike Part. Sinode (Acta 1997:807-809) in studie te neem, met Rapport aan die Sinode van 2003.

 

Besluit: Goedgekeur.

6.2 Die Deputate word versoek om ook die Minderheidsrapport van Liturgiese Kommissie 1 in hulle studie te verreken.

 

Besluit: Goedgekeur.