Hierdie Beswaarskrif vervang A15.7, p.182 van die Agenda.
Hiermee word beswaar aangeteken teen die besluit van Nasionale Sinode
1997:809, 23.6 oor moontlike uitbreiding van KO, art. 69.
1. Die besluit waarteen beswaar gemaak word, lui soos volg
Daar word nie gevolg gegee aan die Beskrywingspunt nie.
Motivering: Die liedere wat die Here ons in sy Woord gegee het (dit
sluit berymde en te beryme OT en NT liedere in) is vir gebruik in die kerke die beste en
voldoende.
2. Die Nasionale Sinode 2000 word versoek om bogenoemde besluit te
herroep en opnuut die Beskrywingspunt van die Suidelike Partikuliere Sinode (Acta
1997:807-809) ter tafel te neem.
3. Beswaargrond 1
Die Nasionale Sinode gaan in sy motivering nie voldoende in op die
eksegetiese en praktiese beredenering van die Beskrywingspunt nie.
3.1 Die Beskrywingspunt motiveer deeglik die versoek tot wysiging
(oor die noodsaaklikheid van die voorgestelde wysiging). Die Nasionale Sinode spreek
hieroor slegs n ongemotiveerde waardeoordeel uit.
3.2 Eksegese van die Here se Woord, wat deur n Partikuliere
Sinode getoets is en wat handel oor die belangrikste Skrifgegewens oor hierdie saak, word
in die Beskrywingspunt as motivering gegee (808, 1.4). Die Nasionale Sinode wys egter die
Beskrywingspunt van die hand sonder om enige beredenering tot die teendeel uit die Skrif
aan te toon.
3.3 Die Beskrywingspunt maak duidelik in 1.4 onderskeid tussen
Wat die Skrif oor die sing van liedere in die kerk leer (vgl. die
verwysing na Ef 5:19; Kol 3:16)
Die feit dat liedere in die Skrif voorkom (vgl. die verwysing o.a. na
Filip 2:6-11).
Die Sinode swyg egter geheel en al oor a) hierbo, en bevestig bloot die
status quo.
Hiermee kom die beginsel van 2 Tim 3:16 ("Die hele Skrif is deur
God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry,
verkeerdhede reg te stel en n regte lewenswyse te kweek") in gedrang.
3.4 Die Nasionale Sinode gee geen motivering uit die Belydenis en die
Kerkorde self nie.
3.5 Die Beskrywingspunt wys op, en beredeneer, inkonsekwenthede,
praktiese onhoudbaarhede en eensydighede in die bestaande praktyk (vgl. 1.2, 1.3, 1.5,
1.6). Sonder dat enige beredenering blyk, word hierdie motivering egter afgewys of
geïgnoreer deur te stel dat die bestaande praktyk voldoende is.
3.6 In die Gereformeerde Kerke regeer Christus as Hoof van die kerk sy
liggaam deur sy Woord (Ef 4:15). Wat Christus in sy Woord beveel, is bepalend. Die stem
van die Here, en nie die stem van die meerderheid of van n Sinode nie
(kollegialisme) moet gehoor word. Daarom is duidelike Skrifbegronding nodig.
3.7 Daar is juis nou n groeiende behoefte in plaaslike kerke aan
groter duidelikheid op grond van die Here se Woord oor die kerklike praktyk. Ernstige
debatte hieroor is in die GKSA aan die gang. Hierdie feit plaas n groot
verantwoordelikheid op die Nasionale Sinode om behoorlike advies en grondige beredenering
volgens God se Woord te gee (vgl. KO, art. 86), veral met die oog op die bevordering van
die belewing van kerklike eenheid in die besluitneming deur kerklike vergaderings.
Toeligter: Ds. G.N.V. Botha.