Home Up Psalms 1 - 25 Psalm 26 - 50 Psalm 51 - 75 Psalm 76 - 100 Psalm 101 - 125 Psalm 126 - 150 Skrifberyming 1 - 25 Skrifberyming 26 - 50 Woordverklaring

RAPPORT NUWE SKRIF- EN PSALMBERYMINGS EN HERSIENING TOTIUSTEKS (Artt.49, 122, 160, 218, 219, 228, 253)

Dr. A.G.S. Venter stel die Rapport.

Oudl. D.F. du Toit hou die werk van wyle prof. P.W. Buys met betrekking tot die hersiening van die Totius-Psalmbundel voor.

Besluit: Die Rapport word verwys na Kommissie Liturgies 2. Finansiële aspekte word verwys na Kommissie vir Finansies.

Di. A.L. Coetzer en G.C. Verhoef stel die Kommissierapporte.

RAPPORT

1. Opdrag

Acta 1997:784-788 en 792.

Die opdrag aan hierdie Deputate behels vier sake, nl.

nuwe Skrifberymings;

nuwe Psalmberymings;

hersiening van die Totiusteks;

uitgee van nuwe liederebundel.

 

Besluit: Kennis geneem.

2. Nuwe Skrifberymings

2.1 Opdrag

Acta 1997:784, 785.

2.1.1 Die Sinode benoem Deputate om enige beryming van die Skrif wat aan hulle voorgelê word of ander berymings wat hulle mag identifiseer volgens die vasgestelde Beginsels en Riglyne (Acta 1994:527) te beoordeel en aanbevelings daaroor te doen.

2.1.2 Die Sinode neem kennis dat min reaksie uit die kerkverband gekom het van voorleggings van nuwe berymings en beveel die kerke aan om persone met belangstelling in hierdie rigting aan te moedig om berymings aan die Deputate voor te lê.

2.1.3 Die nuwe Deputate kry opdrag om Skrifgedeeltes (bv. die gebede in Efesiërs 1 en 3; Num 21:17 e.v. en die lied in 1 Sam 2) wat vir moontlike Skrifberymings geskik is, te identifiseer en met individuele persone te skakel met die versoek om Skrifberymings oor hierdie gedeeltes aan die Deputate voor te lê. Sodanige persone moet op hoogte gebring word van die vereistes waaraan ’n Skrifberyming moet beantwoord volgens die besluite van Sinode 1994.

2.1.4 Die Deputate kan, binne die neergelegde riglyne en met die samewerking van eksegete (soos wat die prosedure is met die nuwe Psalmberyming), met die betrokke persone kommunikeer aangaande veranderinge aan die voorgelegde berymings sodat die persoon ’n finale produk aan die Deputate kan voorlê. Hierdie finale berymings moet aan die volgende Sinode voorgelê word vir finale beoordeling. Die Skrifberymings van J.P. Bingle en die ritmiserings van A. Verhoef word terugverwys na die opstellers met die versoek om aandag te gee aan voorgestelde wysigings en die werk weer voor te lê aan die Deputate vir afhandeling.

2.1.5 Die Deputate moet ritmiserings oorweeg en die volgende Sinode daaroor adviseer. Dit sluit ook die ritmiserings van A. Verhoef in.

 

Besluit: Kennis geneem.

2.2 Sake waarvan die Sinode kennis moet neem

2.2.1 Ds. J.P. Bingle het op versoek van die Deputate ’n artikel in Die Kerkblad gepubliseer om lidmate aan te moedig om nuwe Skrifberymings aan die Deputate voor te lê en hulle in te lig oor die behoefte aan en die vereistes vir nuwe Skrifberymings. In hierdie artikel is gewys op Skrifgedeeltes uit die Ou en Nuwe Testament wat deur die Deputate geïdentifiseer is as moontlik geskik vir berymings (omdigtings). Die Deputate het ook spesifieke persone genader met die versoek om omdigtings te doen. Min reaksie is op hierdie versoeke ontvang.

2.2.2 Die werkswyse wat gevolg is, was om ’n sub-kommissie van die Deputate aan te wys wat die voorleggings nagegaan het en voorstelle tot verandering aan die omdigters voor te lê. Die gewysigde voorleggings is telkens nagegaan totdat daar wedersydse tevredenheid was dat die omdigting aan die gestelde vereistes voldoen. Belangrike kriteria was telkens dat die Skrifgedeelte se inhoud en bedoeling omgedig moet word, dat die woord-toon verhouding sodanig moet wees dat die belangrike begrippe musikaal beklemtoon moet word, dat die omdigting esteties afgerond moet wees en in gemaklike, waardige, hedendaagse Afrikaans moet wees. Die gepastheid van die melodie is ook verreken.

2.2.3 Die Deputate het die omdigtings van J.P. Bingle van Jes 43:1-7 en Ef 6:10-20 afgehandel. Hierdie omdigtings is in die nuutste uitgawe van die Psalmboek as twee nuwe Skrifberymings opgeneem. Dit is gepas om met groot waardering van die werk van ds. J.P. Bingle kennis te neem aangesien daar baie werk en tyd nodig is om omdigtings te doen en af te handel.

2.2.4 Omdigtings is ontvang van P.W. Buys (Hab 3:2-19), J.P. Bingle (Eks 15:1b-18), S. Lessing (1 Kron 16:7-36), Cobie Steyn (Rom 11:33-36; Deut 32:1-42). Nadat die omdigtings deur die Deputate ondersoek is, is in die lig van die bestaande beginsels bevind dat die omdigting van J.P. Bingle van Eks 15:1b-18 wel vir liturgiese gebruik geskik kan wees. Hierdie omdigting word vir goedkeuring aan die Sinode voorgelê en as ’n Bylae by hierdie Rapport aangeheg.

2.2.5 Die hele saak van ritmiserings is deur die Deputate ondersoek. Die Deputate het in ag geneem dat daar wel bruikbare ritmiserings in gebruik is waaronder die beryming van die Ons Vader-gebed in Skrifberyming 28b die bekendste is. Die volgende probleme met ritmiserings is deur die Deputate geïdentifiseer:

2.2.5.1 Die probleem met die ritmiserings wat deur die Deputate ondersoek is, lê nie primêr in die gehalte van die ritmiserings nie. Die probleem is eerder dat die gedeeltes wat geritmiseer word, nie poëties van aard is nie. Dit bring mee dat die prosateks se estetiese waarde verlore gaan met noodgedwone ongemaklike woordorde en woordgebruik, weglating van lidwoorde of die dubbelnegatief, onnatuurlike weglating van lettergrepe en klanksametrekkings en die gebruik van verouderde vorme.

2.2.5.2 Prosateks word in die streng struktuur van bestaande melodieë ingepas. Hierdie melodieë vra meestal kort frases, dikwels met sesure in die middel van reëls en definitiewe sesure aan die einde van reëls. Indien die prosateks in hierdie vorm gegiet word, kom dit dikwels afgekap en kripties voor omdat minder belangrike woorde soms moet weggelaat word ter wille van die musikale patroon.

2.2.5.3 Die volgende riglyne vir aanvaarbare ritmisering behoort te geld:

* Dit moet ‘n toonsetting wees waarin die musiek die woorde volg en nie andersom nie.

* Dit moet ’n aantreklike en gemaklike verhouding tussen taalteks en musiek hê.

* Dit moet verkieslik ’n gedeelte wees waarin die woorde van die gelowige vertolk word en nie waar die woorde van God aan die gelowige(s) beskryf word nie.

2.2.5.4 In die lig van bostaande het die Deputate geoordeel dat die voorgelegde ritmiserings van A. Verhoef nie aan hierdie kriteria beantwoord nie. Sy is dienooreenkomstig in kennis gestel.

2.2.6 Na aanleiding van ’n omdigting deur L. Dekker van Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus wat aan die Deputate voorgelê is, is besin of dit deel is van die Deputate se opdrag (Acta 1997:785) om ook sodanige liedere te beoordeel, aangesien die "berymings van die Skrif" streng gesproke die opdrag is. Dit is in ag geneem dat die beryming van die 12 Artikels (Skb. 27) die beryming van ’n Belydenis bevat. Die Deputate het besluit om wel hieroor te besin en die volgende bevindinge aan die Sinode vir oorweging voor te lê: (Die volledige ondersoek word as Bylae aangeheg).

2.2.6.1 Dit kan histories aangedui word dat die dogmatiese lied in die vierde eeu ’n belangrike rol gespeel het in die weerlegging van dwaalleer. Die Ariane het hulle afwykende beskouings aangaande Christus en die grondliggende leer oor die drie-enigheid van God uitgedra deur middel van metriese, strofiese gedigte van groot poëtiese skoonheid en melodieë in die Griekse volkstyl. Hierop het Chrisostomos geantwoord met regsinnige liedere, in dieselfde styl gesing, maar waarvan die inhoud die suiwere belydenis bevat het in die lig van die Skrifopenbaring van die Persoon van Christus en die drie-enigheid van God. So het talle Christologiese en trinitariese liedere in die kerk tot stand gekom waarin die dogma van die kerk gedra is. Hierdie dogmatiese liedere het dus ’n verkondigende karakter gedra omdat dit die Skrifwaarheid dra en dien.

2.2.6.2 ’n Regsinnige dogmatiese lied kan ook ’n skriftuurlike of skrifmatige lied genoem word omdat dit op die openbaring van die Skrif berus en die geformuleerde dogma van die kerk verwoord. Die Godsopenbaring en die belydenis daarvan as ’n Skrifwaarheid (dogma) is die bron van die dogmatiese lied. Dit is daarom ’n belangrike aanbiddingswyse waarin die Skrifwaarheid bely, beantwoord en geaktualiseer word.

2.2.6.3 Sodanige dogmatiese liedere kan ’n sterk middel wees om die Gereformeerde belydenis in die lewens van mense in te dra en deel van hulle bestaan te maak, juis omdat die lied ’n sterk medium is wat in die gedagtes van mense posvat en by hulle bly.

2.2.6.4 In die beoordeling van die aanvaarbaarheid van ’n dogmatiese lied moet dieselfde kriteria geld as vir omdigtings van die Skrif ("Skrifberymings") om te toets dat daar nie van die waarheid van die Skrif afgewyk word nie en dat die melodie by die inhoud pas.

2.2.7 Op uitnodiging het di. J.P. Bingle en A.H. Mulder ook sitting geneem op die Gesangekommissie om saam te werk met die oog op die vind van moontlike nuwe Skrifberymings. Die werk van hierdie Gesangekommissie sal D.V. voor die Sinode 2003 afgehandel wees.

2.2.8 Die melodieë en hulle singbaarheid was vir die Deputate ’n hoë prioriteit. Die goedgekeurde omdigtings asook die ander voorleggings het telkens van bestaande melodieë gebruik gemaak.

 

Besluit: Kennis geneem.

2.3 Sake waaroor die Sinode moet besluit

2.3.1 Keur die omdigting van J.P. Bingle van Eks 15:1b-18 goed.

 

Besluit: Goedgekeur.

2.3.2 Gee aan die nuwe Deputate opdrag om nuwe Skrifberymings (omdigtings) te probeer vind en na ontvangs te beoordeel volgens die reeds goedgekeurde prosedures en aan die volgende Sinode voor te lê. Die Sinode versoek lidmate om nuwe voorleggings aan die Deputate deur te stuur.

 

Besluit: Goedgekeur.

2.3.3 Besluit oor die gebruik van ritmiserings en keur die riglyne vir ritmiserings soos in pt. 2.2.5.3 geformuleer, goed. Die nuwe Deputate kan dan alle ingekome ritmiserings in die lig hiervan beoordeel en aanbevole ritmiserings aan die volgende Sinode vir goedkeuring voorlê.

 

Besluit: Goedgekeur.

2.3.4 Gee aan die Deputate die mandaat om met die Gesangekommissie van die Ned. Geref. Kerk en Herv. Kerk saam te werk met die oog op die vind van moontlike nuwe Skrifberymings. Die Deputate moet die volgende Sinode adviseer oor die bevindinge hieroor.

 

Besluit: Goedgekeur.

2.3.5 Keur die riglyne oor die dogmatiese lied goed en dra dit aan die nuwe Deputate op om die moontlikheid en kriteria van sodanige liedere in die kerke bekend te stel en om ingekome dogmatiese liedere te beoordeel en die volgende Sinode daaroor te adviseer.

 

Besluit: Die nuwe Deputate vir die Sinode in 2003:

1) Moet sê wat presies onder dogmatiese liedere verstaan word

2) Moet sê watter kriteria sal geld by die beoordeling van dogmatiese liedere

3) ‘n Meer indringende historiese agtergrond ten opsigte van die dogmatiese lied gee.

Motivering:

1. Die deputate het na analogie van die bestaande dogmatiese lied, SB 27, tereg die saak van ‘n dogmatiese lied (beryming van HK, Sondag 1) wat op hulle pad gekom het, aan die Sinode voorgelê.

2. Die kommissie het tereg voorlopige inligting oor die dogmatiese lied onder die aandag van die Sinode gebring.

3. Nuwe Psalmberyming

3.1 Opdrag

Acta 1997:787, 788.

 

Besluit: Kennis geneem.

3.2 Sake waarvan die Sinode moet kennis neem

3.2.1 Die volgende persone het namens die Gereformeerde Kerke meegewerk aan die werk van die Afrikaanse Psalmkommissie: proff. H.F. van Rooy, Heilna du Plooy, P.A. Roodt, di. J.P. Bingle en A.H. Mulder. Die ander kerke wat op hierdie Psalmkommissie dien, is die Ned. Geref. Kerk, Ned. Herv. Kerk, Verenigende Geref. Kerk en Afrikaanse Protestantse Kerk.

3.2.2 Vordering met die werk

3.2.2.1 Tot op datum (3 Mei 1999) is 78 omdigtings finaal goedgekeur. Die oorgrote aantal is gedoen deur prof. T.T. Cloete met enkeles deur ander persone. Die ontbrekende Psalms is in die proses van bewerking. Tans is 32 in die proses van finale afhandeling en aan die oorblywende 40 word gewerk.

3.2.2.2 ’n Bietjie meer as die helfte van die bestaande melodieë word behou omdat hulle ingang by die gemeentes gevind het. Vir die ander Psalms is al ’n hele aantal nuwe melodieë gekomponeer.

3.2.2.3 ’n Redaksiekommissie is reeds aan die werk om die tekste van die nuwe omdigtings wat goedgekeur is, taalkundig te versorg. Eweneens is ’n Redaksiekommissie aangewys wat ver gevorder is met die bepaling van al die musikale aspekte van die tekste wat nuwe melodieë kry, die wyse van notasie, van harmonisasie, die uitleg van die boek wat die gemeente in die hand kry en van die begeleiersboek vir die orreliste. Die onkoste van hierdie werk word deur die uitgewer N.G. Kerk-Uitgewers gedra.

3.2.2.4 Die teikendatum vir die gereed wees van die manuskrip word gestel op April 2000 indien niks onvoorsiens voorval nie. Daarna moet die afrondingwerk nog gedoen word. Dit lei daartoe dat die ander kerke beoog om Pinkster 2001 die nuwe Psalmboek te publiseer (saam met die nuwe Gesangeboek wat saamgestel word).

3.2.2.5 Vir die inligting van die Sinode word van die omdigtings as voorbeelde by hierdie Rapport as ’n Bylae aangeheg.

3.2.2.6 Die Deputate het nog nie die keurderspaneel saamgestel nie omdat die Psalms waarmee gewerk is, nog nie in so ’n vorm was dat dit aan sodanige paneel voorgelê kon word nie en omdat ’n groot aantal van die persone op die vertreklys (wat die Sinode voorgestel het) in elk geval by die huidige proses betrokke is.

 

Besluit: Kennis geneem.

3.3 Sake waaroor die Sinode moet besluit

3.3.1 Gaan voort met die samewerking met die ander kerke tot met die afhandeling van die Nuwe Beryming.

3.3.2 Benoem weer Deputate en benoem die volle Deputategroep as keurderspaneel. Die finale Rapport moet voor die Sinode 2003 deur die Deputate aan die Sinode voorgelê word vir finale besluit oor die inhoud van die Nuwe Beryming.

 

Besluit: Goedgekeur.

3.3.3 Die Sinode spreek hom gunstig uit oor die proses van die nuwe beryming van die Psalms.

Motivering

Gesien in die lig van die Deputate se eenstemmige rapport oor die deeglike werk vir die nuwe Psalmberyming.

 

Besluit: Goedgekeur.

3.3.4 Die nuwe Psalmberymings word aan die kerke beskikbaar gestel vir beoordeling en kommentaar aan die nuwe Deputate.

 

Besluit: Goedgekeur.

3.3.5 Die nuwe Deputate ondersoek die beste opsie (waarvolgens die nuwe Psalmberyming aan die kerke beskikbaar gestel kan word) vir beoordeling.

 

Besluit: Goedgekeur.

3.3.6 Die Deputate vat die kommentaar saam en doen ‘n aanbeveling by Sinode 2003.

 

Besluit: Goedgekeur.

3.3.7 Die Sinode rig ‘n brief van dank en waardering aan prof. T.T. Cloete vir sy werk met die Psalmomdigtings, en ‘n woord van dank word gerig aan die ander medewerkers en die Deputate vir die werk wat hulle tot nou toe gedoen het. Die seën van die Here word hulle toegebid op hulle werksaamhede wat wag.

 

Besluit: Goedgekeur.

4. Hersiening van Totiusteks

4.1 Opdrag

Acta 1997:792.

 

Besluit: Kennis geneem.

4.2 Sake waarvan die Sinode moet kennis neem

4.2.1 Die Sinode het besluit om prof. P.W. Buys te nader om sy werk in hierdie verband voort te sit en om ook die bundel van Skrifberymings deur te gaan.

4.2.2 Prof. Buys sal hieroor afsonderlik aan die Sinode rapporteer – (Aanvullende Agenda).

4.2.3 Geen versoeke tot samewerking van ander kerke in hierdie verband is ontvang nie.

 

Besluit: Kennis geneem.

4.3 Sake waaroor die Sinode moet besluit

4.3.1 Die Sinode besluit in die lig van prof. Buys se Rapport op welke wyse met hierdie werk voortgegaan moet word.

4.3.2 Sinode 2003 oordeel oor die hersiene Totiusteks

4.3.3 Die proses vóór Sinode 2003 verloop soos volg:

4.3.3.1 Die Deputate vir Psalmberyming kontroleer die teks vir Skrifgetrouheid, leerstellige suiwerheid, musikaliteit, taalkundigheid en liturgiese bruikbaarheid.

4.3.3.2 Die Administratiewe Buro stel ‘n Proefbundeltjie (slapband, nootlose boekie) op die goedkoopste manier aan elke kerk beskikbaar vir kommentaar aan die nuwe Deputate.

4.3.3.3 Die Deputate vat die kommentaar saam en doen ‘n aanbeveling by Sinode 2003.

4.3.4 Die aanvanklike fondse vir die bundeltjie word voorgeskiet en word dan verhaal uit die verkope daarvan aan die kerke.

4.3.5 Die Sinode neem met dankbaarheid teenoor die Here kennis van die monumentale werk van wyle prof. P.W. Buys en die medewerkers word ook bedank vir die ywer en liefde waarop hulle hierdie werk gedoen het.

 

Besluit: Kennis geneem.

5. Uitgee van nuwe liederebundel

5.1 Opdrag

Acta 1997:787.

 

Besluit: Kennis geneem.

5.2 Sake waarvan die Sinode kennis moet neem

5.2.1 Die TKKP is saamgestel om die Nuwe Sangbundel saam te stel en met ’n uitgewer te onderhandel oor die uitgee van ’n Nuwe Sangbundel. Die Afrikaanse Psalmkommissie funksioneer as ’n sub-kommissie van die TKKP en berei die teks van die Psalmbundel voor. Al die kerke wat op die Afrikaanse Psalmkommissie dien, het ook sitting op die TKKP. Die TKKP koördineer die kerke se besluite oor die uitgee van die Nuwe Liederebundels deur met die uitgewer te onderhandel. Die GKSA is uiteraard slegs in soverre betrokke as wat die druk en uitgee van Psalms en Skrifberymings ter sprake is, terwyl die TKKP ook oor die uitgee van die Gesangebundel handel.

5.2.2 Die uitgewer is die NG Kerk-Uitgewers. Hierdie firma is ’n vereniging ingelyf sonder winsoogmerk ingevolge artikel 21 van die Maatskappyewet. Die uitgewer staan tans in vir onkostes wat noodsaaklik is vir die administrasie om die proses van voorbereiding te laat voortgaan. Die kopiereg op die nuwe Psalmberymings behoort aan die NG Kerk-Uitgewers.

5.2.3 Elke deelnemende kerk in die TKKP sluit ’n selfstandige ooreenkoms met die uitgewers oor die druk, bestuur en bemarking van individuele sangbundels en die tantieme daaraan verbonde word onafhanklik bestuur volgens die verkope van die betrokke kerk se sangbundel. Elke kerk se sangbundel kry dus ’n eie ISBN-nommer. ’n Uitgewersooreenkoms, wat as standaard vir die deelnemene kerke voorberei is, word as Bylae by hierdie Rapport aangeheg. Dit sal ’n ooreenkoms tussen die GKSA en die uitgewer wees en moet na goedkeuring namens die GKSA onderteken word. Die ooreenkoms is deurgegee aan die Regsdeputate vir advies aan die Sinode.

5.2.4 Aangesien die TKKP geen regspersoon is en nie die administratiewe vermoë het om kopiereg te handhaaf nie, is ooreengekom dat die Kopiereg van die Nuwe Psalmberyming by die Uitgewer vestig.

5.2.5 Die koste van die nuwe bundel sal uiteraard afhang van die formaat daarvan. Die Sinode sal moet besluit oor die saamstel van die nuwe Psalmboek. Die volgende alternatiewe bestaan:

* Die Nuwe Psalmberyming van al 150 Psalms word as ’n afsonderlike bundel uitgegee naas die bestaande "Totiusberyming"

* Die Ou en Nuwe Berymings van al 150 Psalms word beide saam in een bundel uitgegee met die twee berymings bymekaar by elke Psalm.

5.2.6 Die Deputate wil die Sinode daarop wys dat dit onwettig is om eie liederebundels saam te stel uit Psalms, Gesange of ander gepubliseerde liedere of om dit op ’n elektroniese bord te vertoon indien die kopiereg-vereistes nie nagekom word nie. Die prosedure wat kerkrade en instansies moet volg ten einde die kopieregvereistes na te kom, sal in oorleg met die NG Kerk-Uitgewers aan die Sinode voorgelê word.

5.2.7 Dit is gewens dat iemand met kennis van kontrakte die saak van die GKSA op die TKKP behartig.

 

Besluit: Kennis geneem.

5.3 Sake waaroor die Sinode moet besluit

5.3.1 Benoem twee afgevaardigdes om die GKSA op die TKKP te verteenwoordig (en minstens een behoort ’n regsgeleerde te wees).

 

Besluit: Goedgekeur.

5.3.2 Besin oor die uitgewersooreenkoms met die NG Kerk-Uitgewers met die oog op die uitgee van ‘n sangbundel van die GKSA.

 

Besluit: Die Uitgewersooreenkoms met die NG Kerk-Uitgewers word goedgekeur. Die volgende punt word in die Ooreenkoms opgeneem: "Die outeursreg van die Totiusteks (Psalms en Skrifberymings) behoort steeds aan die Administratiewe Buro". Die betekenis hiervan is: Daar moet dus nog steeds by die Administratiewe Buro toestemming verkry word indien enige van die Totiusberymings in ‘n nuwe bundel opgeneem word.

5.3.3 Besluit oor die inhoud en formaat van ’n nuwe liederebundel in die lig van die alternatiewe genoem onder punt 5.2.5 sodat die Sinode 2003 ’n finale besluit hieroor kan neem.

 

Besluit:

Die nuwe Deputate ondersoek die moontlikheid van een bundel.

Sinode 2003 neem ‘n finale besluit oor die inhoud en formaat van die nuwe liederebundel.

5.3.4 Doen ’n ernstige beroep op kerkrade om die kopiereg te handhaaf in die gebruik van liederebundels en/of elektroniese borde.

 

Besluit: Goedgekeur.

5.3.5 Die Deputate vir Regsaangeleenthede gee advies aan kerkrade oor kopiereg – spesifiek oor liederebundels en ander publikasies waarop kopiereg van toepassing is.

 

Besluit: Goedgekeur.

6. Aanbevelings

6.1 Besluit oor elke onderafdeling hierbo genoem.

 

Besluit: Kennis geneem.

6.2 Begroot vir uitgawes in die lig van die aangehegte begroting.

 

Besluit: Kennis geneem.

6.3 Benoem weer Deputate met die volgende opdrag:

6.3.1 Gaan voort om met die ander kerke op die Afrikaanse Psalmkommissie saam te werk in die daarstel van ’n Nuwe Psalmberyming. Die finale kopie moet aan die Sinode 2003 voorgelê word vir beoordeling.

 

Besluit: Goedgekeur.

6.3.2 Probeer om nuwe Skrifberymings (insluitende goedgekeurde ritmiserings) te vind en te ontvang en volgens die reeds bestaande prosedures te behandel en aan die Sinode 2003 voor te lê.

 

Besluit: Goedgekeur.

6.3.3 Werk met die TKKP saam en onderhandel verder binne die ooreenkoms met die NG Kerk-Uitgewers, in oorleg met die Bestuur van die Administratiewe Buro, met die oog op ’n finale kwotasie vir die uitgee van ’n eventuele nuwe Liederebundel.

 

Besluit: Goedgekeur.

7. Begroting

Vertrekpunte van hierdie begroting:

Die Nuwe Liederebundel sal op die Sinode 2003 afgehandel wees en hierdie Deputate se opdrag sal dan afgehandel wees.

Die Afrikaanse Psalmkommissie sal nog tot April 2001 funksioneer.

Die TKKP sal nog tot Januarie 2003 noodsaaklike onderhandelinge moet voer.

BEGROTING 2000 – 2003

1. Vergaderings van die Deputate

1.1 Vergadering van volle Deputate te Potchefstroom

Reiskoste vir 2 vergaderings (aan die begin in 2000 en aan die einde in Mei 2002 – tussenin word van telefoonkonferensies gebruik gemaak - indien nodig)

2 x 1200 km. = 2400 km

1 Vliegtuigkaartjie vanaf Oos-Londen

1.2 Vergadering van sub-kommissie oor Skrifberymings en Totiusteks te Potchefstroom

Reiskoste vir vergaderings in Augustus 2000 en April en Augustus 2001

3 x 600 km = 1800 km

2. Vergaderings van die Afrikaanse Psalmkommissie

2.1 Vergaderings van volle kommissie te Pretoria

Vergaderings in Junie en Desember 2000 en April 2001

3 x 800 km = 2400 km

Aanbied as gasheer van een vergadering: R3000

2.2 Vergaderings van kleiner kommissie te Pretoria

Vergaderings in Maart en Augustus 2000 en Februarie 2001

3 x 500 km = 1500 km

2.3 Vergaderings van die Gesangekommissie te Pretoria

Vergaderings in April en September 2000 en Februarie 2001

3 x 420 km = 1260 km

 

Besluit: Die begroting vir reiskoste tot 30 Junie 2000 word deur die Bestuur van die Administratiewe Buro goedgekeur. ‘n Nuwe begroting tot 30 Junie 2001 moet voor 30 April 2000 ingehandig word.

F. AANVULLENDE RAPPORT

1. Opdrag

Acta 1997:792.

"4. Opdrag aan die te benoeme Deputate

4.1 Aan die te benoeme Deputate word opgedra om waar moontlik ligte redaksionele veranderinge in die Totiusteks aan te bring. Moeilik-verstaanbare woorde, argaïsmes en Afrikaans-vreemde woorde kan by wyse van verklarende aantekeninge (soos in die 1983-Bybelvertaling) verduidelik word.

4.2 Die werk wat reeds in hierdie verband gedoen is, word in ag geneem en sover moontlik oorgeneem.

4.3 Die huidige bundel van Skrifberyminge word ook bewerk."

Prof. P.W. Buys het met die hulp van gekoöpteerde helpers hierdie opdrag enkele dae voor sy oorlye voltooi. Die omvang van die werk is 14 330 versreëls.

Die keuse van die Sinode om hom vir hierdie taak aan te wys, is ryklik beloon. As uitmuntende digter en geskoolde teoloog het hy die opdrag met die grootste piëteit, noukeurigheid, en uitstekende digterlike ingewings uitgevoer.

Totius het die kerkliedtradisie en die voorafgaande psalmberymings die "ou goud" van die verlede genoem, en sy beryming daarby laat aansluit. Vanweë die hoë agting wat P.W. Buys vir die werk van Totius gehad het, toon hierdie hersiening aanvoeling en deernis teenoor ‘n teks wat op hierdie eeu-oue tradisie voortbou. Op sy beurt het hy homself nie tussenin laat kom nie, maar by die idioom van die teks probeer bly. Hierdeur het die eenheid van die bundel bewaar gebly.

Daar is soos volg te werk gegaan: prof. Buys het ‘n eerste deurlopende hersiening geloods. Dié dokument is deur sy helpers deurgewerk waarna hulle voorstelle en kommentaar ingelewer het. Hierdie werk is deur hom geëvalueer, en waar hy dit goed genoeg bevind het, gebruik, aangepas, of soms as ‘n prikkel vir verdere skepping benut. Hierdie laaste lesing waarby hy die gekoöpteerdes se werk geïnkorporeer het, word hiermee aan die Sinode voorgelê.

Daar is deurgaans gehou by die bestaande rymskemas, die jambiese en trogeïese ritmiese patrone en veral die "gesalfde styl" waarin die omdigtings oorspronklik gedoen is. Hieruit volg die voordeel dat die geredigeerde teks, indien dit aanvaar word, onmiddellik gebruik kan word met dieselfde melodieë wat tans in die kerke gesing word.

Binne hierdie parameters is gepoog om te werk aan enersyds woordgebruik, d.w.s dat plaasvervangers gesoek is vir Afrikaans-vreemde woorde, wat ook insluit argaïsmes, woorde uit "vreemde" tale en gedwonge woordskeppings, soos in die opdrag aangedui. Andersyds was dit nodig dat onnatuurlike woordorde en sinsbou ook nader gebring word aan hedendaagse taalgebruik. Totius self was op sy beurt al aangewese om by die bekende ou melodieë te bly. Omdat hierdie ou bekende melodieë oorspronklik vir die fleksieryke Frans, Duits en Nederlands gekomponeer is, moes baie aanpassings in Afrikaans gedoen word.

Dit was egter nie haalbaar om binne die beperking van "ligte redaksionele veranderinge" alles binne die teks reg te stel nie. Die Woordverklarings wat prof. Buys geformuleer en as alfabetiese lys aan die einde aangeheg het, moet daarvoor vergoed. Woorde en uitdrukkings wat in die lys voorkom, is vir doeleindes van die voorlegging met ‘n asterisk aangedui. Hy het egter nie voorsien dat die asterisk-tekens permanent aangetoon moet word nie, omdat dit die teks ontsier en onderbreek.

Verder is die gedeeltes in die teks wat verander is, deur vet druk uitgelig, ook net ter wille van die voorlegging, vir die gerief van die afgevaardigdes. Die doel was geensins dat vetdruk in ‘n nuwe Psalmboek gebruik moet word nie.

 

Besluit: Kennis geneem.

2. Sake waaroor die Sinode moet besluit

2.1 Die Sinode aanvaar die geredigeerde teks van die Psalm en Skrifberymings.

2.2 Indien die voorgelegde hersiene teks aanvaar word, ontvang die betrokke Deputate opdrag om met die drukwerk voort te gaan sodat dit in die kerke gebruik kan word.

Prof. Buys is oorlede voordat hy die Rapport kon finaliseer. Wat hier volg is opgestel deur diegene wat deur hom gekoöpteer is vir die uitvoering van die opdrag.

Dr. ILJ van Vuuren, mev. Sielie Laubscher, DF du Toit, Mione du Toit en Mietsie Harman.

 

Besluit:

3. Die Hersiene Totiusteks word ter wille van kostebesparing nie in die Handelinge van Sinode 2000 opgeneem nie.