RAPPORT NUWE SKRIF- EN PSALMBERYMINGS EN HERSIENING TOTIUSTEKS
(Artt.49, 122, 160, 218, 219, 228, 253)
Dr. A.G.S. Venter stel die Rapport.
Oudl. D.F. du Toit hou die werk van wyle prof. P.W. Buys met betrekking
tot die hersiening van die Totius-Psalmbundel voor.
Besluit: Die Rapport word verwys na Kommissie Liturgies 2.
Finansiële aspekte word verwys na Kommissie vir Finansies.
Di. A.L. Coetzer en G.C. Verhoef stel die Kommissierapporte.
RAPPORT
1. Opdrag
Acta 1997:784-788 en 792.
Die opdrag aan hierdie Deputate behels vier sake, nl.
nuwe Skrifberymings;
nuwe Psalmberymings;
hersiening van die Totiusteks;
uitgee van nuwe liederebundel.
Besluit: Kennis geneem.
2. Nuwe Skrifberymings
2.1 Opdrag
Acta 1997:784, 785.
2.1.1 Die Sinode benoem Deputate om enige beryming van die Skrif wat
aan hulle voorgelê word of ander berymings wat hulle mag identifiseer volgens die
vasgestelde Beginsels en Riglyne (Acta 1994:527) te beoordeel en aanbevelings daaroor te
doen.
2.1.2 Die Sinode neem kennis dat min reaksie uit die kerkverband gekom
het van voorleggings van nuwe berymings en beveel die kerke aan om persone met
belangstelling in hierdie rigting aan te moedig om berymings aan die Deputate voor te lê.
2.1.3 Die nuwe Deputate kry opdrag om Skrifgedeeltes (bv. die gebede in
Efesiërs 1 en 3; Num 21:17 e.v. en die lied in 1 Sam 2) wat vir moontlike Skrifberymings
geskik is, te identifiseer en met individuele persone te skakel met die versoek om
Skrifberymings oor hierdie gedeeltes aan die Deputate voor te lê. Sodanige persone moet
op hoogte gebring word van die vereistes waaraan n Skrifberyming moet beantwoord
volgens die besluite van Sinode 1994.
2.1.4 Die Deputate kan, binne die neergelegde riglyne en met die
samewerking van eksegete (soos wat die prosedure is met die nuwe Psalmberyming), met die
betrokke persone kommunikeer aangaande veranderinge aan die voorgelegde berymings sodat
die persoon n finale produk aan die Deputate kan voorlê. Hierdie finale berymings
moet aan die volgende Sinode voorgelê word vir finale beoordeling. Die Skrifberymings van
J.P. Bingle en die ritmiserings van A. Verhoef word terugverwys na die opstellers met die
versoek om aandag te gee aan voorgestelde wysigings en die werk weer voor te lê aan die
Deputate vir afhandeling.
2.1.5 Die Deputate moet ritmiserings oorweeg en die volgende Sinode
daaroor adviseer. Dit sluit ook die ritmiserings van A. Verhoef in.
Besluit: Kennis geneem.
2.2 Sake waarvan die Sinode kennis moet
neem
2.2.1 Ds. J.P. Bingle het op versoek van die Deputate n
artikel in Die Kerkblad gepubliseer om lidmate aan te moedig om nuwe
Skrifberymings aan die Deputate voor te lê en hulle in te lig oor die behoefte aan en die
vereistes vir nuwe Skrifberymings. In hierdie artikel is gewys op Skrifgedeeltes uit die
Ou en Nuwe Testament wat deur die Deputate geïdentifiseer is as moontlik geskik vir
berymings (omdigtings). Die Deputate het ook spesifieke persone genader met die versoek om
omdigtings te doen. Min reaksie is op hierdie versoeke ontvang.
2.2.2 Die werkswyse wat gevolg is, was om n sub-kommissie van die
Deputate aan te wys wat die voorleggings nagegaan het en voorstelle tot verandering aan
die omdigters voor te lê. Die gewysigde voorleggings is telkens nagegaan totdat daar
wedersydse tevredenheid was dat die omdigting aan die gestelde vereistes voldoen.
Belangrike kriteria was telkens dat die Skrifgedeelte se inhoud en bedoeling omgedig moet
word, dat die woord-toon verhouding sodanig moet wees dat die belangrike begrippe musikaal
beklemtoon moet word, dat die omdigting esteties afgerond moet wees en in gemaklike,
waardige, hedendaagse Afrikaans moet wees. Die gepastheid van die melodie is ook verreken.
2.2.3 Die Deputate het die omdigtings van J.P. Bingle van Jes 43:1-7 en
Ef 6:10-20 afgehandel. Hierdie omdigtings is in die nuutste uitgawe van die Psalmboek as
twee nuwe Skrifberymings opgeneem. Dit is gepas om met groot waardering van die werk van
ds. J.P. Bingle kennis te neem aangesien daar baie werk en tyd nodig is om omdigtings te
doen en af te handel.
2.2.4 Omdigtings is ontvang van P.W. Buys (Hab 3:2-19), J.P. Bingle
(Eks 15:1b-18), S. Lessing (1 Kron 16:7-36), Cobie Steyn (Rom 11:33-36; Deut 32:1-42).
Nadat die omdigtings deur die Deputate ondersoek is, is in die lig van die bestaande
beginsels bevind dat die omdigting van J.P. Bingle van Eks 15:1b-18 wel vir liturgiese
gebruik geskik kan wees. Hierdie omdigting word vir goedkeuring aan die Sinode voorgelê
en as n Bylae by hierdie Rapport aangeheg.
2.2.5 Die hele saak van ritmiserings is deur die Deputate
ondersoek. Die Deputate het in ag geneem dat daar wel bruikbare ritmiserings in gebruik is
waaronder die beryming van die Ons Vader-gebed in Skrifberyming 28b die bekendste is. Die
volgende probleme met ritmiserings is deur die Deputate geïdentifiseer:
2.2.5.1 Die probleem met die ritmiserings wat deur die Deputate
ondersoek is, lê nie primêr in die gehalte van die ritmiserings nie. Die probleem is
eerder dat die gedeeltes wat geritmiseer word, nie poëties van aard is nie. Dit bring mee
dat die prosateks se estetiese waarde verlore gaan met noodgedwone ongemaklike woordorde
en woordgebruik, weglating van lidwoorde of die dubbelnegatief, onnatuurlike weglating van
lettergrepe en klanksametrekkings en die gebruik van verouderde vorme.
2.2.5.2 Prosateks word in die streng struktuur van bestaande melodieë
ingepas. Hierdie melodieë vra meestal kort frases, dikwels met sesure in die middel van
reëls en definitiewe sesure aan die einde van reëls. Indien die prosateks in hierdie
vorm gegiet word, kom dit dikwels afgekap en kripties voor omdat minder belangrike woorde
soms moet weggelaat word ter wille van die musikale patroon.
2.2.5.3 Die volgende riglyne vir aanvaarbare ritmisering behoort te
geld:
* Dit moet n toonsetting wees waarin die musiek die woorde volg
en nie andersom nie.
* Dit moet n aantreklike en gemaklike verhouding tussen taalteks
en musiek hê.
* Dit moet verkieslik n gedeelte wees waarin die woorde van die
gelowige vertolk word en nie waar die woorde van God aan die gelowige(s) beskryf word nie.
2.2.5.4 In die lig van bostaande het die Deputate geoordeel dat die
voorgelegde ritmiserings van A. Verhoef nie aan hierdie kriteria beantwoord nie. Sy is
dienooreenkomstig in kennis gestel.
2.2.6 Na aanleiding van n omdigting deur L. Dekker van Sondag 1
van die Heidelbergse Kategismus wat aan die Deputate voorgelê is, is besin of dit deel is
van die Deputate se opdrag (Acta 1997:785) om ook sodanige liedere te beoordeel, aangesien
die "berymings van die Skrif" streng gesproke die opdrag is. Dit is in ag geneem
dat die beryming van die 12 Artikels (Skb. 27) die beryming van n Belydenis bevat.
Die Deputate het besluit om wel hieroor te besin en die volgende bevindinge aan die Sinode
vir oorweging voor te lê: (Die volledige ondersoek word as Bylae aangeheg).
2.2.6.1 Dit kan histories aangedui word dat die dogmatiese lied in die
vierde eeu n belangrike rol gespeel het in die weerlegging van dwaalleer. Die Ariane
het hulle afwykende beskouings aangaande Christus en die grondliggende leer oor die
drie-enigheid van God uitgedra deur middel van metriese, strofiese gedigte van groot
poëtiese skoonheid en melodieë in die Griekse volkstyl. Hierop het Chrisostomos
geantwoord met regsinnige liedere, in dieselfde styl gesing, maar waarvan die inhoud die
suiwere belydenis bevat het in die lig van die Skrifopenbaring van die Persoon van
Christus en die drie-enigheid van God. So het talle Christologiese en trinitariese liedere
in die kerk tot stand gekom waarin die dogma van die kerk gedra is. Hierdie dogmatiese
liedere het dus n verkondigende karakter gedra omdat dit die Skrifwaarheid dra en
dien.
2.2.6.2 n Regsinnige dogmatiese lied kan ook n skriftuurlike
of skrifmatige lied genoem word omdat dit op die openbaring van die Skrif berus
en die geformuleerde dogma van die kerk verwoord. Die Godsopenbaring en die belydenis
daarvan as n Skrifwaarheid (dogma) is die bron van die dogmatiese lied. Dit is
daarom n belangrike aanbiddingswyse waarin die Skrifwaarheid bely, beantwoord en
geaktualiseer word.
2.2.6.3 Sodanige dogmatiese liedere kan n sterk middel wees om
die Gereformeerde belydenis in die lewens van mense in te dra en deel van hulle bestaan te
maak, juis omdat die lied n sterk medium is wat in die gedagtes van mense posvat en
by hulle bly.
2.2.6.4 In die beoordeling van die aanvaarbaarheid van n
dogmatiese lied moet dieselfde kriteria geld as vir omdigtings van die Skrif
("Skrifberymings") om te toets dat daar nie van die waarheid van die Skrif
afgewyk word nie en dat die melodie by die inhoud pas.
2.2.7 Op uitnodiging het di. J.P. Bingle en A.H. Mulder ook sitting
geneem op die Gesangekommissie om saam te werk met die oog op die vind van moontlike nuwe
Skrifberymings. Die werk van hierdie Gesangekommissie sal D.V. voor die Sinode 2003
afgehandel wees.
2.2.8 Die melodieë en hulle singbaarheid was vir die Deputate n
hoë prioriteit. Die goedgekeurde omdigtings asook die ander voorleggings het telkens van
bestaande melodieë gebruik gemaak.
Besluit: Kennis geneem.
2.3 Sake waaroor die Sinode moet besluit
2.3.1 Keur die omdigting van J.P. Bingle van Eks 15:1b-18 goed.
Besluit: Goedgekeur.
2.3.2 Gee aan die nuwe Deputate opdrag om nuwe Skrifberymings
(omdigtings) te probeer vind en na ontvangs te beoordeel volgens die reeds goedgekeurde
prosedures en aan die volgende Sinode voor te lê. Die Sinode versoek lidmate om nuwe
voorleggings aan die Deputate deur te stuur.
Besluit: Goedgekeur.
2.3.3 Besluit oor die gebruik van ritmiserings en keur die riglyne vir
ritmiserings soos in pt. 2.2.5.3 geformuleer, goed. Die nuwe Deputate kan dan alle
ingekome ritmiserings in die lig hiervan beoordeel en aanbevole ritmiserings aan die
volgende Sinode vir goedkeuring voorlê.
Besluit: Goedgekeur.
2.3.4 Gee aan die Deputate die mandaat om met die Gesangekommissie van
die Ned. Geref. Kerk en Herv. Kerk saam te werk met die oog op die vind van moontlike nuwe
Skrifberymings. Die Deputate moet die volgende Sinode adviseer oor die bevindinge hieroor.
Besluit: Goedgekeur.
2.3.5 Keur die riglyne oor die dogmatiese lied goed en dra dit aan die
nuwe Deputate op om die moontlikheid en kriteria van sodanige liedere in die kerke bekend
te stel en om ingekome dogmatiese liedere te beoordeel en die volgende Sinode daaroor te
adviseer.
Besluit: Die nuwe Deputate vir die Sinode in 2003:
1) Moet sê wat presies onder dogmatiese liedere verstaan word
2) Moet sê watter kriteria sal geld by die beoordeling van dogmatiese liedere
3) n Meer indringende historiese agtergrond ten opsigte van die dogmatiese lied
gee.
Motivering:
1. Die deputate het na analogie van die bestaande dogmatiese lied, SB 27, tereg die
saak van n dogmatiese lied (beryming van HK, Sondag 1) wat op hulle pad gekom het,
aan die Sinode voorgelê.
2. Die kommissie het tereg voorlopige inligting oor die dogmatiese lied onder die
aandag van die Sinode gebring.
3. Nuwe Psalmberyming
3.1 Opdrag
Acta 1997:787, 788.
Besluit: Kennis geneem.
3.2 Sake waarvan die Sinode moet kennis
neem
3.2.1 Die volgende persone het namens die Gereformeerde Kerke
meegewerk aan die werk van die Afrikaanse Psalmkommissie: proff. H.F. van Rooy, Heilna du
Plooy, P.A. Roodt, di. J.P. Bingle en A.H. Mulder. Die ander kerke wat op hierdie
Psalmkommissie dien, is die Ned. Geref. Kerk, Ned. Herv. Kerk, Verenigende Geref. Kerk en
Afrikaanse Protestantse Kerk.
3.2.2 Vordering met die werk
3.2.2.1 Tot op datum (3 Mei 1999) is 78 omdigtings finaal goedgekeur.
Die oorgrote aantal is gedoen deur prof. T.T. Cloete met enkeles deur ander persone. Die
ontbrekende Psalms is in die proses van bewerking. Tans is 32 in die proses van finale
afhandeling en aan die oorblywende 40 word gewerk.
3.2.2.2 n Bietjie meer as die helfte van die bestaande melodieë
word behou omdat hulle ingang by die gemeentes gevind het. Vir die ander Psalms is al
n hele aantal nuwe melodieë gekomponeer.
3.2.2.3 n Redaksiekommissie is reeds aan die werk om die tekste
van die nuwe omdigtings wat goedgekeur is, taalkundig te versorg. Eweneens is n
Redaksiekommissie aangewys wat ver gevorder is met die bepaling van al die musikale
aspekte van die tekste wat nuwe melodieë kry, die wyse van notasie, van harmonisasie, die
uitleg van die boek wat die gemeente in die hand kry en van die begeleiersboek vir die
orreliste. Die onkoste van hierdie werk word deur die uitgewer N.G. Kerk-Uitgewers gedra.
3.2.2.4 Die teikendatum vir die gereed wees van die manuskrip word
gestel op April 2000 indien niks onvoorsiens voorval nie. Daarna moet die afrondingwerk
nog gedoen word. Dit lei daartoe dat die ander kerke beoog om Pinkster 2001 die nuwe
Psalmboek te publiseer (saam met die nuwe Gesangeboek wat saamgestel word).
3.2.2.5 Vir die inligting van die Sinode word van die omdigtings as
voorbeelde by hierdie Rapport as n Bylae aangeheg.
3.2.2.6 Die Deputate het nog nie die keurderspaneel saamgestel nie
omdat die Psalms waarmee gewerk is, nog nie in so n vorm was dat dit aan sodanige
paneel voorgelê kon word nie en omdat n groot aantal van die persone op die
vertreklys (wat die Sinode voorgestel het) in elk geval by die huidige proses betrokke is.
Besluit: Kennis geneem.
3.3 Sake waaroor die Sinode moet besluit
3.3.1 Gaan voort met die samewerking met die ander kerke tot met
die afhandeling van die Nuwe Beryming.
3.3.2 Benoem weer Deputate en benoem die volle Deputategroep as
keurderspaneel. Die finale Rapport moet voor die Sinode 2003 deur die Deputate aan die
Sinode voorgelê word vir finale besluit oor die inhoud van die Nuwe Beryming.
Besluit: Goedgekeur.
3.3.3 Die Sinode spreek hom gunstig uit oor die proses van die
nuwe beryming van die Psalms.
Motivering
Gesien in die lig van die Deputate se eenstemmige rapport oor die
deeglike werk vir die nuwe Psalmberyming.
Besluit: Goedgekeur.
3.3.4 Die nuwe Psalmberymings word aan die kerke beskikbaar gestel vir
beoordeling en kommentaar aan die nuwe Deputate.
Besluit: Goedgekeur.
3.3.5 Die nuwe Deputate ondersoek die beste opsie (waarvolgens die nuwe
Psalmberyming aan die kerke beskikbaar gestel kan word) vir beoordeling.
Besluit: Goedgekeur.
3.3.6 Die Deputate vat die kommentaar saam en doen n aanbeveling
by Sinode 2003.
Besluit: Goedgekeur.
3.3.7 Die Sinode rig n brief van dank en waardering aan prof.
T.T. Cloete vir sy werk met die Psalmomdigtings, en n woord van dank word gerig aan
die ander medewerkers en die Deputate vir die werk wat hulle tot nou toe gedoen het. Die
seën van die Here word hulle toegebid op hulle werksaamhede wat wag.
Besluit: Goedgekeur.
4. Hersiening van Totiusteks
4.1 Opdrag
Acta 1997:792.
Besluit: Kennis geneem.
4.2 Sake waarvan die Sinode moet kennis
neem
4.2.1 Die Sinode het besluit om prof. P.W. Buys te nader om sy werk
in hierdie verband voort te sit en om ook die bundel van Skrifberymings deur te gaan.
4.2.2 Prof. Buys sal hieroor afsonderlik aan die Sinode rapporteer
(Aanvullende Agenda).
4.2.3 Geen versoeke tot samewerking van ander kerke in hierdie verband
is ontvang nie.
Besluit: Kennis geneem.
4.3 Sake waaroor die Sinode moet besluit
4.3.1 Die Sinode besluit in die lig van prof. Buys se Rapport op
welke wyse met hierdie werk voortgegaan moet word.
4.3.2 Sinode 2003 oordeel oor die hersiene Totiusteks
4.3.3 Die proses vóór Sinode 2003 verloop soos volg:
4.3.3.1 Die Deputate vir Psalmberyming kontroleer die teks vir
Skrifgetrouheid, leerstellige suiwerheid, musikaliteit, taalkundigheid en liturgiese
bruikbaarheid.
4.3.3.2 Die Administratiewe Buro stel n Proefbundeltjie
(slapband, nootlose boekie) op die goedkoopste manier aan elke kerk beskikbaar vir
kommentaar aan die nuwe Deputate.
4.3.3.3 Die Deputate vat die kommentaar saam en doen n
aanbeveling by Sinode 2003.
4.3.4 Die aanvanklike fondse vir die bundeltjie word voorgeskiet en
word dan verhaal uit die verkope daarvan aan die kerke.
4.3.5 Die Sinode neem met dankbaarheid teenoor die Here kennis van die
monumentale werk van wyle prof. P.W. Buys en die medewerkers word ook bedank vir die ywer
en liefde waarop hulle hierdie werk gedoen het.
Besluit: Kennis geneem.
5. Uitgee van nuwe liederebundel
5.1 Opdrag
Acta 1997:787.
Besluit: Kennis geneem.
5.2 Sake waarvan die Sinode kennis moet
neem
5.2.1 Die TKKP is saamgestel om die Nuwe Sangbundel saam te stel en
met n uitgewer te onderhandel oor die uitgee van n Nuwe Sangbundel. Die
Afrikaanse Psalmkommissie funksioneer as n sub-kommissie van die TKKP en berei die
teks van die Psalmbundel voor. Al die kerke wat op die Afrikaanse Psalmkommissie dien, het
ook sitting op die TKKP. Die TKKP koördineer die kerke se besluite oor die uitgee van die
Nuwe Liederebundels deur met die uitgewer te onderhandel. Die GKSA is uiteraard slegs in
soverre betrokke as wat die druk en uitgee van Psalms en Skrifberymings ter sprake is,
terwyl die TKKP ook oor die uitgee van die Gesangebundel handel.
5.2.2 Die uitgewer is die NG Kerk-Uitgewers. Hierdie firma is n
vereniging ingelyf sonder winsoogmerk ingevolge artikel 21 van die Maatskappyewet. Die
uitgewer staan tans in vir onkostes wat noodsaaklik is vir die administrasie om die proses
van voorbereiding te laat voortgaan. Die kopiereg op die nuwe Psalmberymings
behoort aan die NG Kerk-Uitgewers.
5.2.3 Elke deelnemende kerk in die TKKP sluit n selfstandige
ooreenkoms met die uitgewers oor die druk, bestuur en bemarking van individuele
sangbundels en die tantieme daaraan verbonde word onafhanklik bestuur volgens die verkope
van die betrokke kerk se sangbundel. Elke kerk se sangbundel kry dus n eie
ISBN-nommer. n Uitgewersooreenkoms, wat as standaard vir die deelnemene kerke
voorberei is, word as Bylae by hierdie Rapport aangeheg. Dit sal n ooreenkoms tussen
die GKSA en die uitgewer wees en moet na goedkeuring namens die GKSA onderteken word. Die
ooreenkoms is deurgegee aan die Regsdeputate vir advies aan die Sinode.
5.2.4 Aangesien die TKKP geen regspersoon is en nie die administratiewe
vermoë het om kopiereg te handhaaf nie, is ooreengekom dat die Kopiereg van die Nuwe
Psalmberyming by die Uitgewer vestig.
5.2.5 Die koste van die nuwe bundel sal uiteraard afhang van die
formaat daarvan. Die Sinode sal moet besluit oor die saamstel van die nuwe Psalmboek. Die
volgende alternatiewe bestaan:
* Die Nuwe Psalmberyming van al 150 Psalms word as n afsonderlike
bundel uitgegee naas die bestaande "Totiusberyming"
* Die Ou en Nuwe Berymings van al 150 Psalms word beide saam in een
bundel uitgegee met die twee berymings bymekaar by elke Psalm.
5.2.6 Die Deputate wil die Sinode daarop wys dat dit onwettig is om eie
liederebundels saam te stel uit Psalms, Gesange of ander gepubliseerde liedere of om dit
op n elektroniese bord te vertoon indien die kopiereg-vereistes nie nagekom word
nie. Die prosedure wat kerkrade en instansies moet volg ten einde die kopieregvereistes na
te kom, sal in oorleg met die NG Kerk-Uitgewers aan die Sinode voorgelê word.
5.2.7 Dit is gewens dat iemand met kennis van kontrakte die saak van
die GKSA op die TKKP behartig.
Besluit: Kennis geneem.
5.3 Sake waaroor die Sinode moet besluit
5.3.1 Benoem twee afgevaardigdes om die GKSA op die TKKP te
verteenwoordig (en minstens een behoort n regsgeleerde te wees).
Besluit: Goedgekeur.
5.3.2 Besin oor die uitgewersooreenkoms met die NG Kerk-Uitgewers met
die oog op die uitgee van n sangbundel van die GKSA.
Besluit: Die Uitgewersooreenkoms met die NG Kerk-Uitgewers word
goedgekeur. Die volgende punt word in die Ooreenkoms opgeneem: "Die outeursreg van
die Totiusteks (Psalms en Skrifberymings) behoort steeds aan die Administratiewe
Buro". Die betekenis hiervan is: Daar moet dus nog steeds by die Administratiewe Buro
toestemming verkry word indien enige van die Totiusberymings in n nuwe bundel
opgeneem word.
5.3.3 Besluit oor die inhoud en formaat van n nuwe liederebundel
in die lig van die alternatiewe genoem onder punt 5.2.5 sodat die Sinode 2003 n
finale besluit hieroor kan neem.
Besluit:
Die nuwe Deputate ondersoek die moontlikheid van een bundel.
Sinode 2003 neem n finale besluit oor die inhoud en formaat van
die nuwe liederebundel.
5.3.4 Doen n ernstige beroep op kerkrade om die kopiereg te
handhaaf in die gebruik van liederebundels en/of elektroniese borde.
Besluit: Goedgekeur.
5.3.5 Die Deputate vir Regsaangeleenthede gee advies aan kerkrade oor
kopiereg spesifiek oor liederebundels en ander publikasies waarop kopiereg van
toepassing is.
Besluit: Goedgekeur.
6. Aanbevelings
6.1 Besluit oor elke onderafdeling hierbo genoem.
Besluit: Kennis geneem.
6.2 Begroot vir uitgawes in die lig van die aangehegte begroting.
Besluit: Kennis geneem.
6.3 Benoem weer Deputate met die volgende opdrag:
6.3.1 Gaan voort om met die ander kerke op die Afrikaanse
Psalmkommissie saam te werk in die daarstel van n Nuwe Psalmberyming. Die finale
kopie moet aan die Sinode 2003 voorgelê word vir beoordeling.
Besluit: Goedgekeur.
6.3.2 Probeer om nuwe Skrifberymings (insluitende goedgekeurde
ritmiserings) te vind en te ontvang en volgens die reeds bestaande prosedures te behandel
en aan die Sinode 2003 voor te lê.
Besluit: Goedgekeur.
6.3.3 Werk met die TKKP saam en onderhandel verder binne die ooreenkoms
met die NG Kerk-Uitgewers, in oorleg met die Bestuur van die Administratiewe Buro, met die
oog op n finale kwotasie vir die uitgee van n eventuele nuwe Liederebundel.
Besluit: Goedgekeur.
7. Begroting
Vertrekpunte van hierdie begroting:
Die Nuwe Liederebundel sal op die Sinode 2003 afgehandel wees en
hierdie Deputate se opdrag sal dan afgehandel wees.
Die Afrikaanse Psalmkommissie sal nog tot April 2001 funksioneer.
Die TKKP sal nog tot Januarie 2003 noodsaaklike onderhandelinge moet
voer.
BEGROTING 2000 2003
1. Vergaderings van die Deputate
1.1 Vergadering van volle Deputate te Potchefstroom
Reiskoste vir 2 vergaderings (aan die begin in 2000 en aan die einde in
Mei 2002 tussenin word van telefoonkonferensies gebruik gemaak - indien nodig)
2 x 1200 km. = 2400 km
1 Vliegtuigkaartjie vanaf Oos-Londen
1.2 Vergadering van sub-kommissie oor Skrifberymings en Totiusteks te
Potchefstroom
Reiskoste vir vergaderings in Augustus 2000 en April en Augustus 2001
3 x 600 km = 1800 km
2. Vergaderings van die Afrikaanse Psalmkommissie
2.1 Vergaderings van volle kommissie te Pretoria
Vergaderings in Junie en Desember 2000 en April 2001
3 x 800 km = 2400 km
Aanbied as gasheer van een vergadering: R3000
2.2 Vergaderings van kleiner kommissie te Pretoria
Vergaderings in Maart en Augustus 2000 en Februarie 2001
3 x 500 km = 1500 km
2.3 Vergaderings van die Gesangekommissie te Pretoria
Vergaderings in April en September 2000 en Februarie 2001
3 x 420 km = 1260 km
Besluit: Die begroting vir reiskoste tot 30 Junie 2000 word deur
die Bestuur van die Administratiewe Buro goedgekeur. n Nuwe begroting tot 30 Junie
2001 moet voor 30 April 2000 ingehandig word.
F. AANVULLENDE RAPPORT
1. Opdrag
Acta 1997:792.
"4. Opdrag aan die te benoeme Deputate
4.1 Aan die te benoeme Deputate word opgedra om waar moontlik ligte
redaksionele veranderinge in die Totiusteks aan te bring. Moeilik-verstaanbare woorde,
argaïsmes en Afrikaans-vreemde woorde kan by wyse van verklarende aantekeninge (soos in
die 1983-Bybelvertaling) verduidelik word.
4.2 Die werk wat reeds in hierdie verband gedoen is, word in ag geneem
en sover moontlik oorgeneem.
4.3 Die huidige bundel van Skrifberyminge word ook bewerk."
Prof. P.W. Buys het met die hulp van gekoöpteerde helpers hierdie
opdrag enkele dae voor sy oorlye voltooi. Die omvang van die werk is 14 330 versreëls.
Die keuse van die Sinode om hom vir hierdie taak aan te wys, is ryklik
beloon. As uitmuntende digter en geskoolde teoloog het hy die opdrag met die grootste
piëteit, noukeurigheid, en uitstekende digterlike ingewings uitgevoer.
Totius het die kerkliedtradisie en die voorafgaande psalmberymings die
"ou goud" van die verlede genoem, en sy beryming daarby laat aansluit. Vanweë
die hoë agting wat P.W. Buys vir die werk van Totius gehad het, toon hierdie hersiening
aanvoeling en deernis teenoor n teks wat op hierdie eeu-oue tradisie voortbou. Op sy
beurt het hy homself nie tussenin laat kom nie, maar by die idioom van die teks probeer
bly. Hierdeur het die eenheid van die bundel bewaar gebly.
Daar is soos volg te werk gegaan: prof. Buys het n eerste
deurlopende hersiening geloods. Dié dokument is deur sy helpers deurgewerk waarna hulle
voorstelle en kommentaar ingelewer het. Hierdie werk is deur hom geëvalueer, en waar hy
dit goed genoeg bevind het, gebruik, aangepas, of soms as n prikkel vir verdere
skepping benut. Hierdie laaste lesing waarby hy die gekoöpteerdes se werk geïnkorporeer
het, word hiermee aan die Sinode voorgelê.
Daar is deurgaans gehou by die bestaande rymskemas, die jambiese en
trogeïese ritmiese patrone en veral die "gesalfde styl" waarin die omdigtings
oorspronklik gedoen is. Hieruit volg die voordeel dat die geredigeerde teks, indien dit
aanvaar word, onmiddellik gebruik kan word met dieselfde melodieë wat tans in die kerke
gesing word.
Binne hierdie parameters is gepoog om te werk aan enersyds woordgebruik,
d.w.s dat plaasvervangers gesoek is vir Afrikaans-vreemde woorde, wat ook insluit
argaïsmes, woorde uit "vreemde" tale en gedwonge woordskeppings, soos in die
opdrag aangedui. Andersyds was dit nodig dat onnatuurlike woordorde en sinsbou ook
nader gebring word aan hedendaagse taalgebruik. Totius self was op sy beurt al aangewese
om by die bekende ou melodieë te bly. Omdat hierdie ou bekende melodieë oorspronklik vir
die fleksieryke Frans, Duits en Nederlands gekomponeer is, moes baie aanpassings in
Afrikaans gedoen word.
Dit was egter nie haalbaar om binne die beperking van "ligte
redaksionele veranderinge" alles binne die teks reg te stel nie. Die Woordverklarings
wat prof. Buys geformuleer en as alfabetiese lys aan die einde aangeheg het, moet
daarvoor vergoed. Woorde en uitdrukkings wat in die lys voorkom, is vir doeleindes van die
voorlegging met n asterisk aangedui. Hy het egter nie voorsien dat die
asterisk-tekens permanent aangetoon moet word nie, omdat dit die teks ontsier en
onderbreek.
Verder is die gedeeltes in die teks wat verander is, deur vet druk uitgelig,
ook net ter wille van die voorlegging, vir die gerief van die afgevaardigdes. Die doel was
geensins dat vetdruk in n nuwe Psalmboek gebruik moet word nie.
Besluit: Kennis geneem.
2. Sake waaroor die Sinode moet besluit
2.1 Die Sinode aanvaar die geredigeerde teks van die Psalm en
Skrifberymings.
2.2 Indien die voorgelegde hersiene teks aanvaar word, ontvang die
betrokke Deputate opdrag om met die drukwerk voort te gaan sodat dit in die kerke gebruik
kan word.
Prof. Buys is oorlede voordat hy die Rapport kon finaliseer. Wat hier
volg is opgestel deur diegene wat deur hom gekoöpteer is vir die uitvoering van die
opdrag.
Dr. ILJ van Vuuren, mev. Sielie Laubscher, DF du Toit, Mione du Toit en
Mietsie Harman.
Besluit:
3. Die Hersiene Totiusteks word ter wille van kostebesparing nie in
die Handelinge van Sinode 2000 opgeneem nie.