Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika bestaan sedert 1859 reeds, en het van die oorspronklike 5 kerke, tot 389 kerke in 2017 gegroei, Daar is tans 265 predikante. Plaaslike kerke is regoor die RSA en ook in Namibië, Zimbabwe en Zambië versprei. Daar is tans 276 predikante wat hierdie kerke, in ongeveer 15 tale bedien. Die GKSA het sy eie Teologiese Skool wat in 1869 in Burgersdorp begin het en sedert 1905 in Potchefstroom gevestig is. Daar is 15 professore en 3 administratiewe beamptes verbonde aan die Teologiese Skool wat by die Fakulteit Teologie van die NWU ingeskakel is.

Die Teologiese Skool het ook sy eie biblioteek. Die GKSA beskik oor ’n eie argief en ’n doelmatige geboue-kompleks wat ook ’n toegeruste ouditorium insluit. Die GKSA het ekumeniese bande met kerke in die VSA, Skotland, Nederland, Australië, Nieu-Seeland, Brasilië, die Kongo, Japan enKorea. Die GKSA staan op die grondslag van die Heilige Skrif, die drie Formuliere van Eenheid en die Dordtse Kerkorde.

Gedurende die eerste anderhalfeeu van die volksplanting aan die Kaap in 1652, was daar geen behoefte aan 'n splitsing in die kerklike lewe van die pioniers nie.

In die vroeë 1800's het die Gereformeerde Kerk in die destydse Kaapkolonie egter 'n nuwe liedereboek vanaf Nederland in die erediens ingevoer. Baie van die liedere in hierdie boek het die Belydenisskrifte (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en dieDordtse Leerreëls) soos vasgestel by die Sinode van Dordtrecht in 1618/1619, weerspreek. Van die lidmate in die afgesonderde Noordoostelike distrikte het hierteen in verset gekom. Hulle was bekend as “die Doppers”. Van die begin af was daar dus lidmate wat nie hierdie gesange wou sing nie. Onder hulle was die uitgangspunt: "In Gods huis Gods lied". Dit was eenvoudige lidmate uit die boeregemeenskap wat naas die Statebybel met kantaantekeninge ook, soos hulle voorouers sterk aanklank gevind het by die oud-gereformeerde skrywers soos à Brakel, Smijtegeld en d'Outrein.

'n Nuwe wyse van kerkregering het ook toenemend mag aan die staat en sinodale vergaderings gegee, en die gesag van plaaslike kerkrade daaraan ondergeskik gemaak. 'n Groot groep van die Gereformeerdes het in 1836 met die Groot Trek meegegaan, maar diegene wat in die kolonie agtergebly het, sou op die kerklike terrein stormagtige tye beleef. Dit was dan veral 'n “herderlike brief” wat deur die Ring van Graaff-Reinet in 1842 opgestel is, wat soos olie op die vuur was. Volgens hierdie skrywe was die “styfhoofdiges” wat weier om die gesange te sing, besig om daarmee Christus se liggaam te deurboor. Die deel van die Doppers wat die Groot Trek meegemaak het, het in die Transgariep spoedig dieselfde besware teen die bestaande kerk gevoel. Hulle besware teen die gesange het of op dowe ore geval of in ander gevalle heftige teenstand ontlok. In die Republiek van die Oranje-Vrystaat was dit die Nederduits Gereformeerde Kerk en in die Transvaalse Republiek die Nederduitsch Hervormde Kerk. Een van die redes waarom die Voortrekkers uit Kaapland weggetrek het, was die onvryheid van die Kerk ten opsigte van die staat. In die Transvaal sou hulle aanvanklik dieselfde ondervind.

In die maande wat 1859 voorafgegaan het, het 15 broeders in die Rustenburg-omgewing besluit om hulle af te skei van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die destydse Tranvaalse Republiek. Onder hulle was Paul Kruger, latere president van die Zuid-Afrikaanse Republiek.

Hulle het op 10 en 11 Februarie 1859 onder 'n seringboom langsaan die Rustenburgse Hervormde Kerk vergader. By hierdie vergadering het 300 lidmate hulle laat inskrywe as lidmate van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Ds. Dirk Postma, 'n besoekende predikant uit Nederland, is gevra om hulle predikant te wees, en hy het die beroep aangeneem om hom daarmee permanent in Suid-Afrika te vestig. Wat die gesange betref, was Ds. Postma se uitgangspunt dat die sing van liedere waarvan die teks in die Bybel gevind word, sekerlik in die erediens die veiligste weg.

Hierdie broeders se geesverwante in die suide by Winburg, Reddersburg, Colesberg, Burgersdorp en Middelburg (Kaapkolonie) het hulle weldra by hulle aangesluit. Ook in die Transvaalse Republiek het daar spoedig gemeentes ontstaan in die Mooirivier-distrik, Pretoria, langs die Krokodilrivier, Nylstroom en Lydenburg.

'n Paar maande na die stigting van die Gereformeerde Kerk te Rustenburg skryf die destydse N.G. Kerk predikant in Bloemfontein, Ds. Andrew Murray, 'n brief aan sy broer, John. Daarin erken hy dat hulle nooit in staat was om die gemoed van die ware Doppers te bereik nie. Voorts meen hy dat die nuwe bediening onder leiding van Ds. Postma tog wel in staat sal wees om harte te bereik ... harte wat vir hulle voorheen geslote voorgekom het.

Aan die einde van 1862 was daar reeds 1,079 belydende lidmate; in 1904 het die getal gestyg tot 12,125, terwyl volgens die Almanak van 1941 'n totaal van 33,487 getel word.

Na die begin-jare het daar weldra die behoefte ontstaan vir die opleiding van predikante en onderwysers. Net twee predikante moes in 1862 al die lidmate in die land bedien. In 1904 was daar sewentien en in 1941 het die getal geklim tot 66 leraars. Die eerste opleiding is op Burgersdorp in die Noord-Oos Kaap gedoen, maar na die Anglo-Boereoorlog het dit na Potchefstroom verskuif.

Uit hierdie skool het die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gegroei tot 'n volwaardige universiteit, met die Fakulteit Teologie wat onder andere dien as 'n teologiese skool vir die opleiding van predikante.
 

 
 

Tuisblad | Wie is ons? | Plaaslike Kerke | Gemeentes | Kommunikasie | Publikasies | Sinodes | Argief |Kontak Ons

This website designed and maintained by GSD Potch - The WEB people...  - www.gsdpotch.com

We recommend that you view this website with: MS IE 7+ of Google Chrome 1.0 or  Mozilla 4.0