| Nederlandse Geloofsbelydenis |
Indien
daar foute is, kliek hier om dit te rapporteer
Die regsininige Christelike belydenis van die Nederlandse kerke wat die hoofinhoud van
die leer in verband met God en die ewige saligheid van siele insluit.
In 'n tyd van groot vervolging van Protestantse Kerke is hierdie Belydenisskrif deur
Guido de Bres opgestel. Dit was in die jaar 1561 in die Suidelike Nederlande (vandag
België). Verskeie Sinodes in die 16de eeu asook die Nasionale Sinode van Dordtrecht
(1618-1619) het dit as een van die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke aanvaar.
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige
geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik,
oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van
alles wat goed is.
2 Kor. 3:17; Joh. 4:24; Jes. 40:14.
Ons ken Hom deur twee middele:
Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.
Dit is immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die
letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik
laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die
mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.
Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer
volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer
en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.
Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:10; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1
Kor. 1.
Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring
is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe,
gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet. 1:21). Daarna het God deur sy besondere
sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy
geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die
wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.
2 Pet. 1:21; Ps. 102:19,. Eks. 17:14 (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22; Eks. 31:18.
Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die
kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van
God is soos volg:
Die boeke van die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus,
Levitikus, Numeri en Deuteronomium, die boeke Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2
Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem Paralipomenon), Esra, Nehemia, Ester, Job, die Psalms van
Dawid, drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied; die vier groot profete:
Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf klein profete: Hosea,
Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi;
die boeke van die Nuwe Testament, nl.: die vier evangeliste: Matteus, Markus, Lukas en
Johannes; die Handelinge van die apostels; die veertien briewe van die apostel Paulus: aan
die Romeine, twee aan die Korintiërs, aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense,
die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus, Filemon en
Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die brief van Jakobus, twee van Petrus,
drie van Johannes en die brief van Judas en die Openbaring van die apostel Johannes.
Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof
daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles
wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar
veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die
bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin
voorspel is, plaasvind.
Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde en vierde boek
van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by
die geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in die vuur, die Gesldedertis van
Susanna, die Beeld van Bel en van die Draak, die Gebed van Manasse en die twee boeke van
die Makkabeërs.
Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die
kanonieke boeke ooreenstem.
Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis
enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag
nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.
Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die
mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse
waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand,
selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer
word nie - ja, al was dit ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê
(Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of
daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal
volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig
die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte
of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings,
verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo
alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self
(Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare
reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: '...maar stel die geeste
op die proef of hulle uit God is' (1 Joh. 4: 1), en: 'As iemand na julle kom en
hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie...' (2 Joh. :10).
2 Tim. 3:17; 1 Pet. 1:11-12; Spr. 30:6; Gal. 3:15; Op. 22:18; 1 Tim. 1:3; Gal.
1:8-11; 1 Kor. 15:2; Hand. 26:22; Rom. 15:4; Hand. 18:28-29; 1 Pet. 4; Luk. 11:13;
2 Tim. 3:24; 2. Tim. 1:13; Kol. 2:8; Hand. 4:19; Joh. 3:13; 2 Pet. 2:16; Joh. 15:15; 1
Joh. 1:5; Hand. 20:27; 2 Joh. 1; Joh. 4:25; Deut. 12:32; Heb. 8:9; Matt. 15:3; 17:5; Mark.
7:7; Jes. 1:12; Hand. 1:21; Rom. 3:4; Jes. 8:20; 2 Tim. 4:(3); 1 Kor. 1:13; 2:4; 3:11; 1
Pet. 5:12; 2 Tess. 2:2; Ps. 12:7; 19:8-9, 12; Deut. 4:6; 6:9,. Ef. 4:5; Joh. 5; Kol. 1:16,
18; 1 Kor. 8:6.
Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige
Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in
werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat
hulle nie met mekaar deel nie.
Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.
Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader.
Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.
Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die
Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie
selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so 'n wyse onderskei dat hierdie drie Persone
slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die
Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie.
Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling
vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs
die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van
gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al
drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.
1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15; Matt.
28:19; 3:16-17; Joh. 1:14; Mig. 5:1.
Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle
werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige
Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die
Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie.
Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en 27: 'En God
het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis... En God het die
mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape'; Genesis 3:22: 'Toe
sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons'. Wanneer God sê: Laat Ons
mense maak na ons beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid
is. En as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Weliswaar sê Hy
nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is,
is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die
stem van die Vader gehoor, wat sê: 'Dit is my geliefde Seun' (Matt. 3:17). Die
Seun is in die water gesien, en die Heilige Gees het Hom in die vorm van 'n duif
geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus
vasgestel: 'Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees' (Matt.
28:19). In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die
Here: 'Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou
oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word' (Luk.
1:35); eweneens: 'Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal' (2 Kor. 13: 13), en: 'Want daar
is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie
is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en
die drie is eenstemmig' (1 Joh. 5:7-8).
Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige
Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou
tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te
geniet.
Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die werkinge van die drie Persone
met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons
Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy
inwoning in ons hart.
Hierdie leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die
apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en
sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus,
Arius en dergelike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.
Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die
Apostels, Nicéa en Atanasius, en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit
het.
Gen. 5:1. Matt. 3:16; 28:19; Luk. 1:35; Hand. 2:32; 2 Kor. 13:13; 1 Joh. 5:7; Hand.
2:32-33; 1 Pet. 1:2; 1 ]oh. 4:13-14; Gal. 4:6; Ef. 3:14, 16; Tit. 3:4-6; Jud. :20-21; Rom.
(6) 8:9; Hand. 10:38; 8:29, 37; Joh. 14:16; 15:26; 1:33; Sp. 25:27.
Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van
God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou
Hy 'n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die
Persoon van die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb. 1:3) en in alles aan Hom
gelyk (Filp. 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur
aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word:
Moses sê dat God die wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge
ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen. 1:1 en Joh. 1:3). Die apostel sê dat
God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus
geskep het (Heb. 1:2 en Kol. 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus
Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê
die profeet Miga: 'Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid' (Miga
5:1), en sê die apostel: 'Hy is sonder begin van dae of lewenseinde' (Heb. 7:3).
Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.
Joh. 1:18, 34 en 49; 1: 14; Kol 1:15; Heb. 1:3; Matt. 3:17; 17:5; Joh. 8:24; 10:30;
9:36; Hand. 8:34; Jes. 7:14; Rom. 9:5; 1 Tess. 3:11; Filp. 2:11; 2 Kor 5:19; Hand. 20; Ef.
3:9; Rom. 14; Tit. 2; 1 Kor. 8:6; Heb. 1:1; 3:4; Joh. 1:3; 1 Joh.5:7, 14, 20; Op. 1-6;
Joh. 8:58; 17:5; 1 Kor. 10:9,. Gal 4:4; Miga 5:2; Kol 1:15; Ps. 2:7, 12; Heb. 13:8.
Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun
uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat Hy
in orde die derde Persoon in die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese,
majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God
is, soos die Heilige Skrif ons leer.
Gen 1:1; Heb. 1:3; 11:3; Joh. 1:3; Ps. 33:6; Jer 32:17; Mal. 2:10; Joh. 1:3; 16:26;
Ps. 104; Amos 4:13; Joh. 14:16, 26.
Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy
Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel
`n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy
onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om
die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om
sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien.
Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die
ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike
toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle
vyande van God is sowel as van alles wat goed is.
Soos moordenaars loer hulle op die kerk - ook op elke lidmaat - om dit met alle mag in
die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur
hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle
verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken
dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat
die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg
geword het nie.
Jes. 40:26; Matt. 28:19; 1 Joh. 5:15,. Hand. 5:3; 1 Kor. 3:16; 6:11; Rom. 8:9; Kol.
1:16; 1 Tim. 4:3; Heb. 3:4; Op. 4:11; 11:16; Heb. 1:14; Ps. 103:21; 34:8; Joh. 8:44; 2
Pet. 2:4; Luk. 8:31; Matt. 25:41; Hand. 23:8; Matt. 4.
Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die
toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat
in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van
die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en
goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en
uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie
verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die
vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle
nederigheld en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons
is tevrede daarmee dat ons leringe van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord
openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.
Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval
oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy
waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons
Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde
kan val nie (Matt. 10:29-30).
Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom
hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp
ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie
en alle dinge aan die toeval oorlaat.
Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13; Job 1:21; 2 Kon. 22:20,. Hand
4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps.
105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon 11:23; Gen.
45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh 3:8; Gen 1:26; Kol.
1:15; 3:10.
Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy
beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig sodat hy met sy
wil in alles met die wil van God kon ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit
nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die
woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood
en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het,
oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy
hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deur dat
hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike
gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as
slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem.
Al die lig wat in ons is, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: En
die lig skyn in die duisternis, en die duistemis het dit nie oorweldig nie' (Joh.
1:5), waar die heilige Johannes die mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in
stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as
`n slaaf van die sonde is nie en: `'n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die
hemel gegee is nie' (Joh 3:27). Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit
homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: `Niemand kan na My kom as die Vader
wat My gestuur het, hom nie trek nie' (Joh. 6:44)?
Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat '...wat die vlees bedink, vyandskap
teen God is' (Rom. 8:7)?
Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie
aanneem nie (1 Kor. 2:14)?
Kortom: Wie sal ook maar op 'n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself
nie bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is (2
Kor. 3:5)? Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit is God wat
in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp.
2:13).
Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil
van God as Christus dit nie in die mens tot stand gebring het nie. Dit leer Hy ons as Hy
sê: 'Sonder My kan julle niks doen nie' (Joh. 15:5).
1 Pet. 2:9; Pred. 12:7; Ps. 8:5; 49:21; Jes. 59:2; Gen 3:17, 19; Pred. 7:30,. Rom.
5:12; Joh. 8:7; Ef. 4:24; Rom. 12:2; 3:10; 8:6; Hand. 14:17, Rom. 1:20-21; Hand. 17:27;
Ef. 4:18; 5:8; Joh. 1:5; Ps. 37:9; Jes. 26:12; Ps. 94:11; Rom. 8:3; 1 Kon. 20:9; Ps. 28:8;
Jes. 45:25; Joh. 3:27; 6:44 (1 Kor. 2:14); 2 Kor. 3:5; Filp. 2:13.
Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike
geslag uitgebrei het. Dit is 'n verdorwenheid van die hele natuur en 'n oorgeërfde gebrek
waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel
wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik
voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem. Dit word selfs nie deur
die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde
aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit 'n giftige fontein. Dit word
die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy genade en
barmhartigheid vergewe. God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap
nie maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die
verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word, Ons verwerp hiermee die dwaling
van die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit navolging ontstaan
nie.
Ps. 51:7; Rom. 3:10; Joh. 3:6; Gen. 6:3; Ef. 2:5; Job 14:4; Rom. 5:14; 7:18-19.
Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die
verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en
regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf
trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste
in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus,
ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin
hulle hulleself gewerp het.
Rom. 3:12; 9:16; Deut. 32:8; 1 Sam. 12:22; Ps. 65:5; Mal. 1:2; 2 Tim. 1:9; Rom.
9:29; Tit. 3:4-5; Ef. 1:4-5; Rom. 11:5; Hand. 2:47; 13:48; 2 Tim. 2:20; Rom. 9:11; 1 Pet.
1:2; Rom. 9:21; Joh. 6:27, 44; 17:9,12; Joh. 13:9; 15:16; Rom. 11:34-35; Joh. 18:20;
15:19; Tit. 1:1; Ef. 1:3; Joh. 10:29; Matt. 15:24; 20:23.
Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek
het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en
geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het. God het die mens toe
getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak - sy Seun, wat uit
'n vrou (Gal. 4:4) gebore sou word om die kop van die slang te vermorsel (Gen. 3:15).
Gen 3:15; 22:18; Jes. 7:14; Joh. 7:42; 2 Tim. 2:8; Heb. 7:14; Joh. 1:14; Gen. 3;
Gal. 4:4.
Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete
inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die
tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk
geword (Filp. 2:7) deur werklik 'n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder
sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van
die Heilige Gees en sonder die toedoen van 'n man verwek. Hy het nie alleen wat die
liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie maar ook 'n egte menslike siel om so 'n
werklike mens te wees.
Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om al twee te red, aangesien beide
verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike
vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die
kinders deelagtig geword het (Heb. 2:14), dat Hy wat die vlees betref, 'n nakomeling van
Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand. 2:30 en Rom. 1:3), 'n vrug van
die moederskoot van Maria (Luk. 1:42), gebore uit 'n vrou (Gal. 4:4), 'n spruit van Dawid
(Jer. 33:15), 'n loot uit die wortels van Isai (Jes. 11:1), van die geslag van Juda afstam
(Heb. 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom. 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien
Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte - maar sonder sonde - aan sy
broers gelyk geword het (Heb. 2:17 en Heb. 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons
Emmanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt. 1:23).
Filp. 2:7; 1 Tim. 3:16; Luk. 1:55; Gen. 26:4; 2 Sam. 7:12; Ps. 132:11; Hand. 13:23;
1 Tim. 2:5; 1 Kor. 12:3; Deut. 29:2; Ps. 119:34; Rom. 7:19; Jer. 33:15; Heb. 7:14; Rom.
9:5; Gal. 3:16; Heb. 2:16; Matt. 1:16.
Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die
menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone
is nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie
eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin
van dae of lewenseinde (Heb. 7:3) en hemel en aarde vervul, só het ook die menslike
natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel 'n begin van dae het,
eindig van natuur is en alles behou wat by 'n ware liggaam behoort.
Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheld gegee het, het Hy die egtheid van
sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die
egdieid van sy liggaam afhanklik is. Hierdie twee nature is só saam in een Persoon
verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie.
Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus 'n ware
menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het. Die Goddelike natuur het in die tussentyd
steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het. Die
Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy 'n klein kindjie was,
al het die Godheid Hom toe 'n kort tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom dat Hy ware
God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om
deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.
Matt. 28:20; Joh. 10:13; Ef. 4:8, 12; Heb. 7:3; Matt. 26:11; Hand. 1:11; 3:21; Luk.
24:39; Joh. 20:25; Hand. 1:3; Matt. 27:50.
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die
natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur
aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur sy allerbitterste lyding en
sterwe dra. So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom
gelê het, en só sy goedheid en barmhartigheld uitgestort oor ons, wat skuldig was en die
ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir
ons in die dood gegee, en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die
onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.
Heb. 2:14,. Rom. 8:3, 32; 4:25.
Ons glo dat Jesus Christus - kragtens 'n eed - 'n ewige Hoëpriester is volgens die
orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met
volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot
afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Want daar staan
geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur
sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos 'n lam na die slagplek gelei en by
die misdadigers gereken is' (Jes. 53:5, 7, 9); dat Hy as 'n misdadiger deur Pontius
Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy
nie geroof het nie (Ps. 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir onregverdiges
gely (1 Pet. 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy
sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk. 22:44), en Hy het
uitgeroep: 'My God, my God, waarom het U My verlaat' (Matt. 27:46).
Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg
saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks anders praat nie as oor Jesus
Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor. 2.2); dat ons alles as waardeloos
beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Filp. 3:8); dat
ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek
of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie een offerande wat net een
maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb. 10:14).
Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus, dit is Verlosser,
genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Matt. 1:21).
Ps. 110:4; Heb. 5:10; Rom. 5:8-9; Kol. 2:14; Heb. 2:9, 17; Rom. 4:25; Joh. 15:13;
Hand. 2:24; Joh. 3:16; Rom. 8:32; 1 Tim. 1:15; Jes. 53:5, 7; Heb. 9:14; 1 Pet. 2:24; Matt.
15:28; Joh. 18:38; Ps. 69:5; Eks. 12:6; Ps. 22:16; Dan. 9:26; 1 Kor. 2:2; Rom. 5:6; Filp.
2:8; Heb. 9:12; 1 Pet. 1:18-19; Joh. 10:9; Heb. 9:25-26; 10:14; Joh. 5:10; Matt. 1:21;
Hand. 4:12; Luk. 1:31.
Ons glo dat die Heilige Gees 'n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware
kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy
verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie. Daar is dus net
twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óf
dit is alles wél in Hom, en dan het hy wat wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy
volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar
buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken
dat Christus slegs 'n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons
deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom. 3:28). Om
presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die
geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat
Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy
heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is
wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom
geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.
Ps. 51:8; Ef. 1:17-18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal 2:21; Jer. 23:6; 1 Kor. 1:20;
Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20, 28; Gal. 2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29,
33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3, 5, 9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5;
3:24, 27; Filp. 3:9; 2 Tim. 1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2.
Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus
Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Dit leer Dawid en Paulus
ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheld daarin bestaan dat God hom die
geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Ps. 32:2 en Rom. 4:6). Dieselfde
apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing
wat in Jesus Christus is (Rom. 3:24). Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee
aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is, en roem glad nie
in onsself of in ons verdienste nie, maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van
die gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit
is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering
en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel
soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie.
Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op
onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons - helaas! - verteer moes word. En
daarom moet elkeen saam met Dawid sê: 'En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want
niemand wat leef, is voor U aangesig regverdig nie' (Ps. 143:2).
Heb. 11:7; Ef. 2:8; 2 Kor. 5:19; 1 Tim. 2:6; 1Jjoh. 2:1; Gen. 3:7 (Rom. 5:19); Rom
4:6; Hand. 4:12; Eseg. 36:23, 32; Deut. 27:26; Jak. 2:10; Ps. 143:2; Luk. 16:15; Job 1; 1
Kor. 4:4; Ps. 18:28; Sef. 3:11; Heb. 10:20.
Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die
Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat
word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die
sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir
'n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit
iets uit liefde tot God doen nie maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die
verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot
stand sou bring nie; ons praat mos nie van `n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem
'n geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6), wat die mens beweeg om hom
voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het.
Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir
God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie
vir ons regverdiging nie, want ons is deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat
ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug
van 'n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.
Ons doen dus goeie werke, maar nie om iets te verdien nie - wat sou ons tog kon
verdien?
Veeleer is ons die goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks
verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om
sy heilige plan uit te voer (Filp. 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan:
`...wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike
diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen' (Luk. 17:10). Tog wil
ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy
gawe bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons
saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook
strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net
een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel
verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd
gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun
nie.
Rom. 10:17; Joh. 5:26; Ef. 2:4; Joh. 8:36; Tit. 2:12; Joh. 15; Heb. 11:6; 1 Tim.
1:5; Gal. 5:6; Tit. 3:8; Rom. 9:32; Tit. 3:5; Matt. 7:17; Rom. 14:23; Heb. 11:4; Gen. 4:4;
1 Kor. 4:7; Filp. 3:13; Jes. 26:12; Gal. 3:5; 1 Tess. 2:13; Luk. 17:10; Rom. 2:6; Op.
2:13; 2 Joh. :8; Rom. 11:5 (6-7); (Ef. 2:5); Jes. 64:6; 1 Kor. 3:11; Jes. 28:26; Rom.
10:11; Hab. 2:4.
Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou
het en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe
onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in
Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle
vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te
gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer
van God en volgens sy wil in te rig.
Rom. 10:4; Gal. 3, 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2, 18.
Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en
Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die
Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit
toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat
die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat
terugdeins sodat ons 'n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is
niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as
Jesus Christus nie, Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het
deur vir ons die gestalte van 'n mens en van 'n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle
opsigte gelyk geword het (Filp. 2:6-7 en Heb. 2:17). As ons dus moes soek na 'n ander
middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons
sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom. 5:8,
10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die
regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt. 28:18)? En
wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek
aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van
hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar
wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit uit hulle geskrifte blyk.
Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake
van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit
alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy
geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel - wanneer hy
hierdie dwase vrees of liewer die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem - dat Jesus
Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy 'n barmhartige en getroue
Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self
versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2:17-18). En om ons nog
meer moed te gee om na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: 'Terwyl ons dan `n
groot Hoepriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun
van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons
swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons,
maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan,
sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word' (Heb.
4:14-16). Dieselfde apostel sê: 'Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die
heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus ... laat ons toetree met `n waaragtige hart
in volle geloofsversekerdheid...' (Heb. 10:19, 22). En voorts: 'maar Hy, omdat Hy
vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook
volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree' (Heb.
7:24-25). Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: 'Ek is die weg en die
waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie' (Joh. 14:6)?
Waarom sou ons 'n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as
Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om 'n ander een te neem of liewer 'n
ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het
Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die
hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die gebed van die
Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan
ons gegee sal word (Joh. 16:23).
1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:26; Deut. 4:24; Gen. 3:10; Eks. 20:19; Jer 2:33; Jes.
43:22; Hos. 13:9; Luk. 18:19; Ef. 3:20; 1 Joh. 4:10; Ef. 3:19; Filp. 2:7; Joh 15:13; Matt.
28; Heb. 1:3, 7; Jes. 55:1-3; Matt. 11:28; Jak. 5:17; Ps. 115:1; Hand. 14:15; 10:26; Heb.
9:24; Joh. 11:9; Hand. 4:12; 1 Kor. 1:30; Ps. 34:7; Jer 2:5; Heb. 4:14, 16; Jer. 17:5, 7;
Heb. 2:17-18; 4:14-16; Ef. 2:18; Heb. 10:19; 7:25; Joh. 14:6; Ps. 44:(21) 6; 1 Tim. 2:5; 1
Joh. 2:1; Rom. 8:34; Luk. 11:2; Joh. 14:13; Jer. 16:20; Heb. 13:15; Rom. 5:8.
Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal
wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saliheid in Jesus Christus verwag en in
sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van
die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige
Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God
teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en
dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom
gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl
gekniel het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot
`n sekere plek of sekere persone nie, maar is die oor die hele wêreld versprei en
verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde
Gees saamgevoeg en verenig.
Ps. 46:6; Jer. 31:36; Ps. 102:14; Matt. 28:20; 2 Sam. 7:16; Luk. 1:32; Ps. 89:37;
110:4; Gen. 22; Rom. 11; 1 Kon. 19:18; 2 Tim. 2:19; Luk. 17:21; Matt. 11:25; Hand. 4:32;
Ef. 4:4; 1 Pet. 3:20; Gen. 22:18; Matt. 16:18; Jes. 1:9; Rom. 9:29; ]oël 2:32; Hand.
2:21.
Ons glo - aangesien hierdie heilige vergadering 'n versameling is van hulle wat verlos
word en daarbuite geen saligheid is nie - dat niemand, wat sy stand en status ook al is,
hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is
verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te
bewaar deur hulle almal - as lede van een en dieselfde liggaam - aan sy leer en tug te
onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God
aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te
kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hufle af te skei
van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié vergadering aan te sluit,
waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen
wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie
ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.
Ps. 5:6; 22:23; Ef. 4:12; Heb. 2:12; Matt. 24:28; Jes. 49:22; 52:11-12; Hand. 4:17,
19; Heb. 10:25; Op. 17:2; Hand. 17:7; 18:13.
Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te
onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die
wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeeien. Ons praat hier nie van die huigelaars
wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel
hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `n mens die liggaam en die gemeenskap van die
ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke
waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie
suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike
tug gebruik om die sondes te straf - kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere
Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die
enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die
reg om hom daarvan af te skei nie.
Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke
van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus
aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheld najaag, die ware God
en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy
werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie;
inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle
altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van
die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes
het.
Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as
aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit
bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en
voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle
wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid
en afgodery bestraf.
Herdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.
Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt. 28:20; Gal. 1:8;
1 Kor. 11:20; Kol 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20;1 Joh. 4:2 (en
3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh.
16:2.
Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here
ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees
om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens
om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat
die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike
wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en
getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer
betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die
brief aan Timoteus daarvoor gee (1 Tim. 3).
1 Kor. 4:1-2; 2 Kor. 5:19; Joh. 20:23; Hand. 26:18; 1 Kor. 15: 10; Matt. 5:14; Luk
10:16; Gal. 2:8; Tit. 1:5; 1 Tim. 3.
Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot
hulle ampte verkies moet word deur middel van `n wettige verkiesing deur die kerk, onder
aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet
elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy meet wag
totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan
hê dat dit van God kom.
Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al
mag wees, een en dieselfde mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is -
die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk. Verder sê ons, met die
oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen
vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê
ter wille van die werk wat hulle doen, en sover moontlik sonder murmurering, twis of
tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.
Hand. 6:3-4; 1 Tim. 4:13; Hand. 1:23; 13:2; 1 Tim. 5:22; 1 Kor. 12:28; Rom. 12:8; 1
Tim. 4:14; Matt. 18:26; 1 Kor. 3:8; Rom. 12:7-8; 2 Kor. 5:19; Hand. 26:18; Jes. 61:1; Ef.
1:22; Kol. 1:28; 1 Tess. 5:12-13; Heb. 13:7,17.
Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder
mekaar 'n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te
handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester,
vir ons ingestel het nie.
En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer
om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing.
Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en
om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat
daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.
1 Kor. 7:57; Kol. 2:6-7; Matt. 15:9; Jes. 29:13; Gal. 5:1; Rom. 16:17-18; Matt.
18:17; 1 Kor. 5:5; 1 Tim. 1:20.
Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou,
die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy
goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het
dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor
te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So
bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en
seëls van 'n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die
krag van die Heilige Gees. Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te
bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie
hulle geheel en al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met die aantal sakramente
wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die
sakrament van die doop en die heilige nagmaal van Jesus Christus.
Rom. 4:11; Gen. 9:13; 17:10-11; Eks. 12; Kol. 2:11; 1 Kor. 5:7; Matt. 28:19; 26:26;
Rom. 10:9; Kol. 1:11; 1 Pet. 3:20; 1 Kor. 10:2.
Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom. 10:4), deur sy
bloed te stort 'n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat 'n mens tot
versoening of voldoening van die sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis wat
met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop
ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en
vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel
te dra. Dit dien vir ons tot 'n getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees.
Daarom het Hy beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die
Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop (Matt. 28:19).
Hy toon ons daarmee dat, soos water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons
gegiet word, en soos die water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit
daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees
dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en
laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Dit gebeur nie
deur die uitwendige water nie maar wel deur die besprinkeling met die kosbare bloed van
die Seun van God, ons Rooisee waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit
wil sê die duiwel, te ontkom en om in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die
bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament dit wat sigbaar is, maar ons Here
gee wat deur die sakrament aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons
siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en
vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egte sekerheid van sy Vaderlike goedheid; Hy
beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke.
Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet
word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie.
Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar
ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede
is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie, en wat bowendien ook nog die doop
van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te
doop en met die teken van die verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel
kragtens dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik,
Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir
die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang
van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort
na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus
deur vir hulle 'n lam te offer, wat 'n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien
doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk
gedoen het; dit is die rede waarom die heilige Paulus die doop die besnydenis deur
Christus noem (Kol. 2:11).
Matt. 28:19; 1 Kor. 6:11; Tit. 3:5; Heb. 9:14; 1 Joh. 1:7; (Op. 1:5); 1 Pet. 1:2;
2:24; 1 Joh. 5:16; Joh. 19:34; Matt. 3:11; 1 Kor. 3:7; Rom. 6:3; Ef. 5:26; Hand. 22:16; 1
Pet. 3:21; Gal. 3:27; 1 Kor. 12:13; Ef. 4:5; Heb. 6:1-2; Hand. 8:16; 2:38, 41; Matt.
19:14; 1 Kor. 7:14; Gen. 17:11; Kol. 2:11; Lev. 12:6.
Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige
nagmaal beveel en ingestel het om hulle te voed en te onderhou wat Hy reeds wederbaar en
in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat weergebore is, tweërlei lewe in
hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het
en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die
tweede geboorte, wat deur die Woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam
van Christus plaasvind. Almal deel nie in hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes
van God. So het God tot instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse
en gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal.
Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou het Hy vir
hulle 'n lewende brood gestuur wat uit die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus.
Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet, dit wil sê
deur die geloof geestelik toegeeien en ontvang word. Om hierdie geestelike en hemelse
brood vir ons af te beeld het Christus aardse en sigbare brood as 'n teken van sy liggaam
en wyn as 'n teken van sy bloed ingestel.
Hy gee ons daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons
hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna ons lewe in stand hou, net so
waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof - dit is die hand
en mond van ons siel - die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste
Verlosser.
Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir
ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons deur hierdie heilige
tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe
dit gebeur, net soos die werking van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is.
Tog dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en
natuurlike hggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die manier waarop ons dit
nuttig, is nie met die mond nie maar met die Gees deur die geloof. Daarom, al bly Christus
altyd aan die regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die
geloof aan Homself deel te laat hê nie.
Hierdie feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan
ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet.
Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel as ons sy liggaam eet, en Hy
verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink.
Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort,
word nie beide deur alle mense ontvang nie. Die goddelose mens ontvang wel die sakrament
tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas
en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur
voorgestel word nie; Hy word slegs aan die gelowiges gegee.
Ten slotte, ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die
samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging 'n heilige gedagtenis aan die dood
van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike
godsdiens doen. Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik
ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink as hy van hierdie brood
eet en uit hierdie beker drink nie (1 Kor. 11:29). Kortom, deur die gebruik van hierdie
heilige sakrament word ons tot 'n vurige liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom
verwerp ons alle brousels en verwerplike versinsels wat mense by die sakrament bygevoeg en
daarmee vermeng het, as ondieiligings daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met
die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het, en ons sê dieselfde as wat
hulle daarvan gesê het.
Matt. 26:26; Mark. 14:17; Luk. 22:19; 1 Kor. 11:24, 28; Joh. 3:6; 10:10; 5:25; 6:48,
51, 63; 1 Kor. 10:16, 27; Ef. 3:17; Joh. 6:35; Hand. 3:21; Mark. 16:14; Matt. 26:11; 1
Kor. 10:3-4; 11:29; Rom. 8:22; 2 Kor. 6:15; 1 Kor. 2:14; Hand. 2:42; 20:7.
Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings,
vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van
wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheld van die mense in bedwang
gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die
owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die
deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te
gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende
alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te
vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie
orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord
beveel.
Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om
hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te
bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en vir
hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, sodat ons
in alle godsvrug en eerbaarheid 'n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim. 2:2). Hierin
verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die
owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die
gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense
ingestel het, versteur.
Eks. 18:20; Rom. 13:1; Spr. 8:15; Jer. 22:3; Ps. 82; Deut. 1:16; 16:19; 17:16; 2
Kor. 10:6; Ps. 101; Jer. 21:12; Rig. 21:25; Jer. 22:3; Dan. 2:21-22; (5:8); Jes. 49:23; 2
Kron. 23; 1 Kron. 15:12; Rom. 13:1; Luk 22:1; 1 Pet. 2:17; Tit. 3; Matt. 17:27; Hand.
4:17-19; Hand. 2, 5; Hos. 5:11; Jer. 27:5; 2 Pet. 2:10; Jud. 1:10; 1 Tim. 2:2.
Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom
het wat die Here bepaal het - dié tyd is vir alle skepsels onbekend - en die getal
uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en
majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand. 1:11),
om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou
wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van
die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en
kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik
voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tess. 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde
opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het. En
hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in 'n oogwink verander
en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en
die dooies geoordeel word (Op. 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of
dit goed was of sleg (2 Kor. 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke
ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matt. 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as
kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die
openbaar voor almal oopgevlek word.
Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg
ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk.
Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van
moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle
sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in
hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die
getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal
onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy
engele voorberei is (Matt. 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met
heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt.
10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op.
21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as
ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as 'n beloning
uit genade sal die Here self hulle so 'n heerlikheid gee as wat die hart van 'n mens nooit
kon bedink nie.
Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus
Christus, ons Here, ten volle te geniet.
AMEN
Matt. 13:23; 25:13; 1 Tess. 5:1-2; Matt. 24:36; Op. 6:11; Hand. 1:11; 2 Pet. 3:10;
Matt. 24:30; Op. 21:11; Matt. 25:31; Jud. 1:15; 1 Pet. 4:5; 2 Tim. 4:1; 1 Tess. 4:16; 1
Kor. 15:51; Matt. 11:22; Mark. 12:18; Matt. 23:23; Joh. 5:29; Rom. 2:5; Heb. 6:2; 9:27;
Matt. 12:36; 2 Tess. 1:5; (Heb. 10:27); 1 Joh. 4:17; Op. 14:7; Luk. 14:14; 2 Kor. 5:10;
Op. 21:8; 22:12; Dan. 7; Matt. 25:41; 2 Pet. 2:9; Jes. 25:8; Matt. 10:32; Op. 21:4; Jes.
66:5; 1 Kor. 2:9.
|