1 Julie 2009

Aan alle Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

Broers en susters

In opdrag van die Sinode word hierdie brief aan u gerig om u in te lig oor die besluite wat tydens Sinode 2009 geneem is insake die diens van ons susters in die besondere dienste:

Besluit insake die diens van diaken

Susters kan in die diakensamp dien.  Sinode 2009 het ‘n beswaarskrif gehandhaaf wat daartoe gelei het dat die besluit van Sinode 2003 herstel is.  Hierdie besluit lui soos volg:
Die Sinode keur in die lig van die Skrif goed dat vroue wat die nodige gawes het as diakens in die GKSA verkies en bevestig kan word.

Besluit insake die diens van ouderling en predikant

Tydens die voortsetting van die Sinode is ‘n diepgaande rapport hanteer oor die vraag of susters as ouderlinge en predikante kan dien.  In hierdie rapport is aandag gegee aan onder andere besluite wat reeds tydens Sinode 1988 en 2003 geneem is, tersaaklike kerkregtelike, historiese, Skrifbeskoulike en hermeneutiese vertrekpunte.  Uitgaande van hierdie vertrekpunte is verskillende relevante Skrifgedeeltes hanteer.

Die Sinode het vir bykans twee dae broederlik met mekaar gepraat en biddend geluister na die Woord van ons Here.  Daar het verskillende standpunte na vore gekom wat biddend oorweeg is.  Uiteindelik is die volgende besluit geneem:
            Die sinode het in die lig van die behandeling van die rapport tot die oortuiging gekom dat  vroue nie in die besondere dienste van predikante en ouderling mag dien nie.

Die Sinode bid elkeen van ons kerke die seën van die Here toe.  Mag Hy gee dat al ons kerke eendragtig in eenheid en in biddende opsien na Hom sal volhard.

_____________                                                                      ________________
Dr. CJ Smit (Voorsitter)                                                           Ds. LH van Schaik ( Skriba)